Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 4:8-18 Afrikaans 1983 (AFR83)

8. Toe het Petrus, vol van die Heilige Gees, vir hulle gesê: “Raadslede van die volk, en familiehoofde,

9. julle verhoor ons vandag oor 'n weldaad aan 'n siek man en oor hoe hy gesond gemaak is.

10. Julle almal en die hele volk Israel moet weet dat dit in die Naam van Jesus Christus van Nasaret is dat hy hier gesond voor julle staan — dié Jesus vir wie julle gekruisig het, maar wat God uit die dood opgewek het.

11. Hy is“die klip wat deur julle, die bouers, afgekeur is.Juis Hy het die belangrikste klip in die gebou geword.

12. “Hý bring die verlossing en niemand anders nie. Daar is geen ander naam op die aarde aan die mense gegee waardeur God wil dat ons verlos moet word nie.”

13. Die Joodse Raad was verbaas toe hulle Petrus en Johannes se vrymoedigheid sien, want die Raad het geweet dit is maar ongeleerde en eenvoudige mense. Die raadslede het hulle ook herken as volgelinge van Jesus.

14. En toe hulle nog boonop die gesonde man by die apostels sien staan, kon hulle niks teen hulle inbring nie.

15. Die raadslede het hulle toe beveel om die raadsaal te verlaat en het die saak met mekaar bespreek.

16. “Wat gaan ons met hierdie mense maak?” het hulle gevra. “Dat 'n onmiskenbare wonder deur hulle plaasgevind het, is vir al die inwoners van Jerusalem duidelik. Ons kan dit nie ontken nie.

17. Maar om te voorkom dat hierdie dinge nog verder onder die volk versprei, moet ons hulle met dreigemente verbied om weer in die Naam van Jesus met iemand te praat.”

18. Daarna het die Raad die apostels weer laat inkom en hulle beveel om glad nie verder in die Naam van Jesus iets te verkondig of te leer nie.

Lees volledige hoofstuk Handelinge 4