Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 3:6-19 Afrikaans 1983 (AFR83)

6. Maar Petrus sê: “Geld het ek nie; maar wat ek het, gee ek vir jou: in die Naam van Jesus Christus van Nasaret, staan op en loop!”

7. Hy vat toe die man se regterhand en help hom op, en onmiddellik het sy voete en enkels sterk geword.

8. Hy het opgespring en regop gestaan, en hy kon loop. Daarna het hy saam met hulle in die tempel ingegaan terwyl hy geloop en gespring en God geprys het.

9. Al die mense het gesien dat hy loop en God prys;

10. maar toe hulle besef dat dit hy is wat voor die tempel by die Mooipoort gesit en bedel het, was hulle baie verbaas en verwonder oor wat daar met hom gebeur het.

11. Die man het vir Petrus en Johannes bly volg, en die mense wat almal uiters verbaas was, het na hulle toe gestroom in die Pilaargang van Salomo, soos dit genoem is.

12. Toe Petrus dit sien, het hy hulle toegespreek:“Israeliete, hoekom is julle hieroor verbaas? Wat staar julle ons so aan asof ons deur ons eie krag of vroomheid gemaak het dat hierdie man loop?

13. Die God van Abraham, die God van Isak, die God van Jakob, die God van ons voorvaders, het aan Jesus, sy Dienaar, goddelike eer gegee — aan Hom vir wie júlle uitgelewer en voor Pilatus verwerp het toe hy beslis het dat Hy vrygelaat moes word.

14. Hy was heilig en opreg, maar júlle het Hom verwerp en gevra dat daar vir julle 'n moordenaar begenadig moet word.

15. So het julle Hom, die Leidsman na die lewe toe, doodgemaak, maar God het Hom uit die dood opgewek, en daarvan is ons getuies.

16. Deur die geloof in sy Naam het Hy die bene van hierdie man, wat julle sien en ken, sterk gemaak. Die geloof wat van Hom kom, het die man volkome herstel, hier voor julle almal.

17. “Nou weet ek, broers, dat julle net soos julle leiers in onkunde gehandel het.

18. Tog het God reeds vroeër by monde van al die profete aangekondig dat die Christus sou ly. So het Hy dit nou laat gebeur.

19. Daarom, bekeer julle en kom tot inkeer. Dan sal God julle sondes uitwis.

Lees volledige hoofstuk Handelinge 3