Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 28:1-18 Afrikaans 1983 (AFR83)

1. Nadat ons veilig aan wal gekom het, het ons gehoor dat dit die eiland Malta is.

2. Die mense daar was baie vriendelik teenoor ons. Omdat dit begin reën het en koud was, het hulle 'n vuur aangesteek en ons almal daarby verwelkom.

3. Paulus het 'n klomp hout bymekaargemaak en op die vuur gegooi. Van die hitte het daar 'n slang uitgekom, en dit het aan sy hand vasgebyt.

4. Toe die mense die slang aan Paulus se hand sien hang, sê hulle vir mekaar: “Hierdie man moet beslis 'n moordenaar wees. Al is hy uit die see gered, wil die goddelike wraak hom nie laat lewe nie.”

5. Paulus het egter die slang in die vuur afgeskud en niks oorgekom nie.

6. Hulle het gewag dat hy moet opswel of skielik dood neerslaan, maar nadat hulle 'n lang ruk gewag het en gesien het dat daar niks ongewoons met hom gebeur nie, het hulle van mening verander en gesê hy is 'n god.

7. Daar was 'n plaas in daardie omgewing wat aan die hoof van die eiland, 'n man met die naam Publius, behoort het. Hy het ons vriendelik ontvang en ons drie dae lank as sy gaste gehuisves.

8. Publius se pa was in die bed, siek aan maagkoors. Paulus het na hom toe gegaan, en nadat hy gebid het, het hy hom die hande opgelê en hom gesond gemaak.

9. Na hierdie voorval het ook die ander siekes op die eiland na Paulus toe gekom, en hy het hulle gesond gemaak.

10. Hulle het ons met baie geskenke vereer, en toe ons vertrek, het hulle ons van alles voorsien wat ons nodig gehad het.

11. Na drie maande het ons vertrek met die Dioskuri, 'n Aleksandrynse skip, wat daar oorwinter het.

12. Ons het in Sirakuse gekom en drie dae daar oorgebly.

13. Daarvandaan het ons verder gevaar en in Regium gekom. Die volgende dag het daar 'n suidewind begin waai, en na twee dae was ons in Puteoli.

14. Daar het ons gelowiges teëgekom wat ons uitgenooi het om sewe dae by hulle te bly. En so is ons na Rome toe.

15. Die gelowiges daar het van ons gehoor, en party van hulle het ons by die Appiusmark kom ontmoet en party by die Drie Herberge. Toe Paulus hulle sien, het hy God gedank en moed geskep.

16. Na ons aankoms in Rome het Paulus die vergunning gekry om op sy eie te woon met 'n soldaat om hom te bewaak.

17. Drie dae later het hy die Joodse leiers na hom toe uitgenooi. Toe hulle bymekaargekom het, het hy vir hulle gesê: “Broers, ek het niks teen ons volk of teen die gebruike van ons voorvaders gedoen nie, en tog is ek in Jerusalem gevange geneem en aan die Romeine uitgelewer.

18. Hulle het my verhoor en wou my loslaat omdat daar geen rede was om my ter dood te veroordeel nie.

Lees volledige hoofstuk Handelinge 28