Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 27:20-34 Afrikaans 1983 (AFR83)

20. Dae lank was die son en die sterre nie te sien nie en het die geweldige wind voortgewoed. Uiteindelik het ons alle hoop laat vaar om gered te word.

21. Nadat hulle 'n lang tyd nie meer geëet het nie, het Paulus tussen hulle gaan staan en gesê: “Manne, julle moes na my geluister het en nie van Kreta af weggevaar het nie. Dan sou ons hierdie ramp en skade vrygespring het.

22. Maar selfs in hierdie omstandighede vra ek julle: Hou moed! Niemand van julle sal sy lewe verloor nie. Net die skip sal vergaan.

23. Verlede nag het daar 'n engel aan my verskyn van die God aan wie ek behoort en wat ek dien.

24. Die engel het vir my gesê: ‘Moenie bang wees nie, Paulus. Jy moet nog voor die keiser verskyn. En ter wille van jou spaar God in sy goedheid die lewe van almal wat hier saam met jou op die skip is.’

25. Daarom, hou moed, manne! Ek vertrou op God dat alles net so sal gebeur soos Hy vir my gesê het.

26. Dit is so bestem dat ons êrens op 'n eiland moet strand.”

27. Die veertiende nag dat ons so op die Adriatiese See rondgeslinger is, teen middernag, het die matrose vermoed dat ons naby land kom.

28. Hulle het 'n dieplood uitgegooi en 'n diepte van ses en dertig meter gekry. 'n Bietjie verder het hulle weer die dieplood uitgegooi, en toe was dit sewe en twintig meter.

29. Hulle was bang die skip loop op die rotse en het toe vier ankers by die agterstewe van die skip uitgegooi en gewens dit moet dag word.

30. Die matrose wou wegkom van die skip af en het die bootjie in die see neergelaat onder die voorwendsel dat hulle ankers by die boeg van die skip wou laat sak.

31. Paulus sê toe vir die offisier en sy soldate: “As hierdie matrose nie aan boord bly nie, kan julle nie gered word nie.”

32. Toe het die soldate die toue van die bootjie afgekap en hom in die see laat val.

33. Net toe dit begin lig word, het Paulus almal aangespoor om te eet: “Vandag is dit al veertien dae dat julle in spanning wag sonder om iets te eet.

34. Daarom raai ek julle aan om nou te eet. Julle het dit nodig om gered te word. Niemand van julle sal 'n haar van sy kop verloor nie.”

Lees volledige hoofstuk Handelinge 27