Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 21:27-40 Afrikaans 1983 (AFR83)

27. Toe die sewe dae van die reiniging byna om was, het Jode van die provinsie Asië vir Paulus by die tempel gesien. Hulle het die hele skare aangehits en vir Paulus gegryp.

28. “Israeliete, kom help!” het hulle geskreeu. “Hier is die man wat ons volk, die wet van Moses en die tempel oral aanval. Nou het hy boonop nog Grieke in die tempel ingebring en hierdie heilige plek ontheilig.”

29. Hulle het dit gesê omdat hulle vantevore vir Trofimus van Efese saam met Paulus in die stad gesien het en gedink het dat Paulus hom in die tempel in geneem het.

30. Die hele stad het in beroering gekom. Die mense het saamgedrom, vir Paulus gegryp en hom uit die tempel uitgesleep. Die deure is dadelik agter hulle toegesluit.

31. Die mense wou hom net doodmaak. 'n Boodskap is toe na die kommandant van die Romeinse garnisoen toe gestuur dat die hele Jerusalem in oproer is.

32. Hy het onmiddellik met soldate en offisiere na die oproer toe gehardloop. Toe die skare die kommandant en sy soldate sien, het hulle opgehou om vir Paulus te slaan.

33. Die kommandant het na Paulus toe gegaan, hom gevange geneem en beveel dat hy met twee kettings geboei moet word. Daarna het hy probeer vasstel wie die man is en wat hy gedoen het.

34. Die skare het so deurmekaar geskreeu dat hy in die lawaai nie kon uitvind wat presies aan die gang is nie. Hy het toe beveel dat Paulus na die kaserne toe gevat moet word.

35. By die trap van die kaserne het die gepeupel so saamgedrom dat die soldate Paulus moes dra,

36. want al die mense het agterna geloop en geskreeu: “Weg met hom!”

37. Net voor hulle Paulus die kaserne wou inbring, sê hy vir die kommandant: “Mag ek u iets vra?”Daarop sê die kommandant: “Ken jy Grieks?

38. Dan is jy nie die Egiptenaar wat 'n rukkie gelede in opstand gekom en met vier duisend terroriste die woestyn in getrek het nie?”

39. Daarop antwoord Paulus hom: “Ek is 'n Jood van Tarsus in Silisië, 'n burger van 'n belangrike stad. Laat my asseblief toe om die volk toe te spreek.”

40. Die kommandant het ingewillig, en Paulus het op die trap gaan staan en met sy hand vir die mense gewys om stil te bly. Toe dit baie stil geword het, het hy hulle in Hebreeus toegespreek.

Lees volledige hoofstuk Handelinge 21