Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 17:1-13 Afrikaans 1983 (AFR83)

1. Paulus-hulle het deur Amfipolis en Apollonië na Tessalonika toe gereis, waar daar 'n Joodse sinagoge was.

2. Soos dit Paulus se gewoonte was, het hy daarheen gegaan en op drie sabbatdae na mekaar uit die Skrif met die Jode geredeneer.

3. Hy het die Skrif uitgelê en daaruit aangetoon dat die Christus moes ly en uit die dood moes opstaan. “Hierdie Jesus wat ek aan julle verkondig,” het hy gesê, “Hý is die Christus.”

4. Party van die Jode het oortuig geraak en by Paulus en Silas aangesluit. 'n Groot aantal godvresende Grieke en 'n aansienlike getal vooraanstaande vroue het ook nog bygekom.

5. Maar die Jode was hieroor afgunstig en het met die hulp van 'n klomp nikswerd leeglêers 'n betoging op tou gesit wat die stad in oproer gebring het. Hulle het na Jason se huis toe opgeruk en wou vir Paulus en Silas hê om hulle voor die volk te bring.

6. Toe die Jode hulle nie kry nie, sleep hulle vir Jason en 'n paar ander gelowiges na die stadsbestuur toe en skreeu: “Dit is die mense wat die hele wêreld in beroering bring. Hulle is nou hier in ons stad,

7. en Jason het vir hulle huisvesting gegee. Hulle handel almal in stryd met die keiser se wette en sê dat daar 'n ander koning is, Jesus!”

8. Die mense en die stadsbestuur was ontsteld toe hulle dit hoor,

9. maar nadat hulle van Jason en die ander gelowiges die nodige waarborg gekry het, is hulle losgelaat.

10. Sodra dit donker was, het die gelowiges vir Paulus en Silas na Berea toe gestuur. Daar aangekom, het hulle na die Joodse sinagoge toe gegaan.

11. Die mense daar was ontvankliker as dié in Tessalonika. Hulle het met groot belangstelling na die woord geluister en elke dag die Skrif ondersoek om te sien of dit is soos Paulus sê.

12. Baie van die Jode het gelowig geword en ook heelparty van die Grieke, mans sowel as vooraanstaande vroue.

13. Toe die Jode in Tessalonika egter hoor dat Paulus die woord van God ook in Berea verkondig, het hulle ook dáár oproer gaan stook en die mense opgesweep.

Lees volledige hoofstuk Handelinge 17