Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 16:1-9 Afrikaans 1983 (AFR83)

1. Paulus het in Derbe gekom en daarna in Listra. Dáár was 'n gelowige met die naam Timoteus. Sy ma, ook 'n gelowige, was 'n Joodse vrou en sy pa 'n Griek.

2. Die gelowiges in Listra en Ikonium het net goed van hom gepraat.

3. Omdat Paulus vir Timoteus met hom wou saamneem, het hy hom besny. Dit het hy gedoen ter wille van die Jode wat in daardie gebied gewoon het, want hulle het almal geweet sy pa is 'n Griek.

4. Soos hulle van stad tot stad gereis het, het hulle die besluite wat die apostels en ouderlinge in Jerusalem geneem het, aan die gelowiges oorgedra en hulle beveel om daarvolgens te handel.

5. So is die gemeentes in die geloof versterk, en die getal gelowiges het by die dag groter geword.

6. Hulle het daarna deur die gebied van Frigië en Galasië gereis, omdat die Heilige Gees hulle verhinder het om die woord in die provinsie Asië te verkondig.

7. Toe hulle by die grens van Misië kom, het hulle na Bitinië toe probeer gaan, maar die Gees van Jesus het hulle dit nie toegelaat nie.

8. Hulle het toe deur Misië gereis en na Troas toe gegaan.

9. Daar het Paulus in die nag in 'n gesig 'n Masedoniese man gesien wat by hom staan en hom smeek: “Kom oor na Masedonië toe en help ons.”

Lees volledige hoofstuk Handelinge 16