Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 14:19-28 Afrikaans 1983 (AFR83)

19. Toe het daar Jode van Antiogië en Ikonium af gekom en die mense na hulle kant toe oorgehaal. Hulle het Paulus met klippe gegooi en hom uit die stad gesleep onder die indruk dat hy dood is.

20. Daar het die gelowiges rondom hom kom staan, en hy het opgestaan en weer die stad ingegaan. Die volgende dag het hy en Barnabas na Derbe toe vertrek.

21. Paulus en Barnabas het die evangelie ook in Derbe verkondig, en baie mense het daar gelowig geword.Daarna het hulle na Listra, Ikonium en Antiogië toe teruggegaan.

22. Hulle het die gelowiges geestelik versterk en hulle aangespoor om getrou te bly in die geloof. “Ons sal eers deur baie verdrukking moet gaan voordat ons in die koninkryk van God kom,” het hulle gesê.

23. In elke gemeente het hulle ouderlinge gekies. Nadat die gemeente gebid en gevas het, het die apostels hulle opgedra aan die Here, in wie hulle nou geglo het.

24. Die apostels het verder deur Pisidië na Pamfilië toe gegaan.

25. Daar het hulle in Perge die woord verkondig en daarna na Attalië toe vertrek.

26. Daarvandaan is hulle met 'n skip terug na Antiogië toe, waar hulle aan die genade van God opgedra was vir die werk wat hulle nou voltooi het.

27. By hulle aankoms het hulle die gemeente bymekaargeroep en vir hulle vertel wat God alles deur hulle gedoen het en dat Hy vir die heidene die deur van die geloof oopgemaak het.

28. Die apostels het 'n geruime tyd daar by die gelowiges deurgebring.

Lees volledige hoofstuk Handelinge 14