Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 11:1-14 Afrikaans 1983 (AFR83)

1. Die apostels en die ander gelowiges in Judea het gehoor dat mense wat nie Jode is nie, ook die woord van God aangeneem het.

2. Toe Petrus dan in Jerusalem kom, het die Joodse gelowiges hom verwyt:

3. “Jy het mense besoek wat nie besny is nie en het selfs saam met hulle geëet.”

4. Petrus het toe vir hulle alles mooi uiteengesit:

5. “Ek was in Joppe besig om te bid toe ek in geesvervoering 'n gesig gesien het,” het hy gesê. “Ek het iets soos 'n groot doek wat aan sy vier punte neergelaat word, uit die hemel sien afkom, en dit het tot by my gekom.

6. Toe ek goed daarna kyk, sien ek daarin viervoetige diere van die aarde, wilde en kruipende diere, en wilde voëls.

7. Ek het toe 'n stem gehoor wat vir my sê: ‘Kom, Petrus, slag en eet.’

8. Maar ek het geantwoord: ‘Nooit nie, Here! Ek het nog nooit my mond aan iets gesit wat onrein of onheilig is nie.’

9. 'n Tweede keer het ek die stem uit die hemel gehoor: ‘Wat God rein verklaar het, mag jy nie onrein ag nie.’

10. Dit het drie keer gebeur, en daarna is alles weer in die hemel opgetrek.

11. “Terselfdertyd het daar drie mans wat van Sesarea af na my toe gestuur is, by die huis aangekom waar ons tuis was.

12. Die Gees het vir my gesê dat ek nie moet aarsel om saam met hulle te gaan nie. Ek en hierdie ses broers is toe saam met hulle, en ons het in Kornelius se huis ingegaan.

13. Hy het vir ons vertel hoe hy die engel in sy huis sien staan het, wat vir hom gesê het: ‘Stuur iemand na Joppe toe en laat vir Simon daar haal wat ook Petrus genoem word.

14. Hy het 'n boodskap vir jou waardeur jy gered sal word, jy en jou hele huisgesin.’

Lees volledige hoofstuk Handelinge 11