Ou Testament

Nuwe Testament

Galasiërs 5:16-26 Afrikaans 1983 (AFR83)

16. Wat ek bedoel, is dít: Laat julle lewe steeds deur die Gees van God beheers word, dan sal julle nooit swig voor begeertes van julle sondige natuur nie.

17. Wat ons sondige natuur begeer, is in stryd met wat die Gees wil, en wat die Gees wil, is in stryd met wat ons sondige natuur begeer. Hierdie twee staan lynreg teenoor mekaar, en daarom kan julle nie doen wat julle graag wil nie.

18. Maar as julle julle deur die Gees laat lei, staan julle nie meer onder die wet nie.

19. Die praktyke van die sondige natuur is algemeen bekend: onsedelikheid, onreinheid, losbandigheid,

20. afgodsdiens, towery, vyandskap, haat, naywer, woede, rusies, verdeeldheid, skeuring,

21. afguns, dronkenskap, uitspattigheid en al dergelike dinge. Ek waarsku julle soos ek julle al vroeër gewaarsku het: Wie hom aan sulke dinge skuldig maak, sal nie die koninkryk van God as erfenis verkry nie.

22. Die vrug van die Gees, daarteenoor, is liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid,

23. nederigheid en selfbeheersing. Teen sulke dinge het die wet niks nie.

24. Dié wat aan Christus Jesus behoort, het hulle sondige natuur met al sy hartstogte en begeertes gekruisig.

25. Ons lewe deur die Gees; laat die Gees nou ook ons gedrag bepaal.

26. Ons moenie verwaand wees, mekaar uittart of op mekaar afgunstig wees nie.

Lees volledige hoofstuk Galasiërs 5