hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6

Ou Testament

Nuwe Testament

Galasiërs 5 Afrikaans 1983 (AFR83)

1. Christus het ons vry gemaak om werklik vry te wees. Staan dan vas in hierdie vryheid en moet julle nie weer onder 'n slawejuk laat indwing nie.

Die Christelike vryheid

2. Kyk, ek, Paulus, sê vir julle: As julle julle laat besny, sal Christus vir julle geen betekenis hê nie.

3. Ek sê dit weer nadruklik vir elkeen wat hom laat besny: Hy is verplig om die hele wet van Moses te onderhou.

4. Julle wat van julle sonde vrygespreek wil word deur die wet te onderhou, julle het julle band met Christus verbreek, julle het die genade van God verbeur.

5. Wat ons betref, deur die werking van die Gees is dit ons hoop en verwagting dat ons deur te glo, vrygespreek sal word.

6. In Christus Jesus is dit nie van belang of jy besny is of nie. Al wat van belang is, is geloof wat deur die liefde tot dade oorgaan.

7. Julle was so goed op pad. Wie het julle verhinder om die waarheid te bly gehoorsaam?

8. Wie het julle omgepraat? Nie God nie; Hy roep julle tot gehoorsaamheid.

9. 'n Bietjie suurdeeg deurtrek die hele deeg.

10. Ons band met die Here gee my die vertroue dat julle net so sal dink soos ek. Maar die man wat vir julle in verwarring bring, wie hy ook al mag wees, God sal hom straf.

11. Wat my betref, broers, as ek nog verkondig dat 'n mens besny moet word, waarom word ek dan nog vervolg? Dan is die kruis as struikelblok mos uit die weg geruim.

12. Ek wens die mense wat dié verwarring onder julle stig, wou hulleself dan maar heeltemal ontman!

Die Gees van God en ons sondige natuur

13. Julle, broers, julle is tot vryheid geroep. Moet net nie julle vryheid misbruik as 'n verskoning om sonde te doen nie, maar dien mekaar in liefde.

14. Die hele wet word in hierdie een gebod saamgevat: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.”

15. Maar julle byt en verskeur mekaar; pas op dat julle mekaar nie later heeltemal verslind nie.

16. Wat ek bedoel, is dít: Laat julle lewe steeds deur die Gees van God beheers word, dan sal julle nooit swig voor begeertes van julle sondige natuur nie.

17. Wat ons sondige natuur begeer, is in stryd met wat die Gees wil, en wat die Gees wil, is in stryd met wat ons sondige natuur begeer. Hierdie twee staan lynreg teenoor mekaar, en daarom kan julle nie doen wat julle graag wil nie.

18. Maar as julle julle deur die Gees laat lei, staan julle nie meer onder die wet nie.

19. Die praktyke van die sondige natuur is algemeen bekend: onsedelikheid, onreinheid, losbandigheid,

20. afgodsdiens, towery, vyandskap, haat, naywer, woede, rusies, verdeeldheid, skeuring,

21. afguns, dronkenskap, uitspattigheid en al dergelike dinge. Ek waarsku julle soos ek julle al vroeër gewaarsku het: Wie hom aan sulke dinge skuldig maak, sal nie die koninkryk van God as erfenis verkry nie.

22. Die vrug van die Gees, daarteenoor, is liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid,

23. nederigheid en selfbeheersing. Teen sulke dinge het die wet niks nie.

24. Dié wat aan Christus Jesus behoort, het hulle sondige natuur met al sy hartstogte en begeertes gekruisig.

25. Ons lewe deur die Gees; laat die Gees nou ook ons gedrag bepaal.

26. Ons moenie verwaand wees, mekaar uittart of op mekaar afgunstig wees nie.