Ou Testament

Nuwe Testament

Efesiërs 2:12-22 Afrikaans 1983 (AFR83)

12. In dié tyd was julle sonder Christus, uitgesluit uit die burgerskap van Israel, ver van God af sonder deel aan die verbonde en die beloftes wat daarmee saamhang, sonder hoop en sonder God in die wêreld.

13. Maar nou is julle een met Christus Jesus. Julle wat vroeër ver van God gelewe het, het nou naby gekom deur die bloed van Christus.

14. Christus is ons vrede, Hy wat dié twee, Jode en nie-Jode, een gemaak het. Deur sy liggaam te gee, het Hy die vyandskap afgebreek wat vroeër soos 'n muur skeiding gemaak het.

15. Die wet van Moses met al sy gebooie en bepalings het Hy opgehef, en deur vrede te maak, het Hy in Homself dié twee, Jode en nie-Jode, tot een nuwe mensheid verenig.

16. Deur sy dood aan die kruis het Hy 'n einde gemaak aan die vyandskap en dié twee met God versoen en tot een liggaam verenig.

17. Toe Hy gekom het, het Hy die goeie boodskap van vrede gebring: vrede vir julle wat ver van God was, vrede ook vir dié wat naby was.

18. Deur Hom het ons almal, Jode en nie-Jode, deur die een Gees vrye toegang tot die Vader.

19. Julle is dus nie meer ver van God af nie, nie bywoners nie, maar medeburgers van die gelowiges en lede van die huisgesin van God.

20. Julle is 'n gebou wat opgerig is op die fondament van die apostels en die profete, 'n gebou waarvan Christus Jesus self die hoeksteen is.

21. In Hom sluit die hele gebou saam en verrys dit tot 'n heilige tempel vir die Here,

22. in wie julle ook saam opgebou word as 'n geestelike huis waarin God woon.

Lees volledige hoofstuk Efesiërs 2