Ou Testament

Nuwe Testament

2 Korintiërs 5:5-14 Afrikaans 1983 (AFR83)

5. Hy wat ons vir hierdie oorgang voorberei het, is God. As waarborg hiervan het Hy ons sy Gees gegee.

6. Daarom is ons altyd vol moed. Ons weet dat, solank as ons in die liggaam bly, ons nog nie by die Here woon nie,

7. want ons lewe deur geloof, nie deur sien nie.

8. Ons is vol moed en sou liewer ons verblyf in die liggaam wil verlaat en by die Here gaan woon.

9. Maar, of ons hier woon of daar woon, ons het net een wens, en dit is om te lewe soos Hy dit wil.

10. Ons moet immers almal voor die regterstoel van Christus verskyn, sodat elkeen kan ontvang volgens wat hy tydens sy aardse lewe gedoen het, of dit nou goed was of kwaad.

11. Ons weet wat dit beteken om die Here te dien. Daarom probeer ons die mense oortuig. God ken ons bedoelings, en ek vertrou dat julle ook van ons bedoelings oortuig is.

12. Ons prys onsself nie opnuut by julle aan nie. Ons gee julle juis eerder aanleiding om trots te wees op ons, sodat julle 'n antwoord kan hê vir dié wat trots is op die uiterlike en nie op die innerlike nie.

13. As ons in geestesvervoering was, was ons dit vir God; en as ons by ons verstand is, is ons dit vir julle.

14. Die liefde van Christus dring ons, omdat ons tot die insig gekom het dat een vir almal gesterwe het, en dit beteken dat almal gesterwe het.

Lees volledige hoofstuk 2 Korintiërs 5