Ou Testament

Nuwe Testament

2 Korintiërs 1:1-11 Afrikaans 1983 (AFR83)

1. Van Paulus, 'n apostel van Christus Jesus deur die wil van God, en van die broer Timoteus.Aan die gemeente van God in Korinte en aan almal wat aan die Here behoort in die hele Agaje.

2. Genade en vrede vir julle van God ons Vader en die Here Jesus Christus!

3. Aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus, kom al die lof toe! Hy is die Vader wat Hom ontferm en die God wat in elke omstandigheid moed gee.

4. In elke moeilikheid bemoedig Hy ons. Daarom kan ons ook ander bemoedig wat in allerlei moeilikhede verkeer. Ons kan hulle bemoedig met dieselfde bemoediging waarmee God ons bemoedig,

5. want net soos daar vir ons 'n oorvloed van lyding is ter wille van Christus, is daar ook vir ons 'n oorvloed van bemoediging deur Christus.

6. As ons dus in beproewing kom, is dit dat julle bemoedig en gered kan word. As ons bemoedig word, is dit om julle te bemoedig en te versterk, sodat julle met geduld dieselfde lyding kan verduur wat ons ook verduur.

7. En wat julle betref, het ons 'n vaste verwagting: ons weet dat net soos julle saam met ons deel het aan die lyding, julle ook aan die bemoediging deel het.

8. Ons wil hê, broers, dat julle moet weet van die moeilikhede wat ons in die provinsie Asië ondervind het. Die swaar wat ons moes verduur, het ver bo ons kragte gegaan, sodat ons selfs die hoop om te bly lewe, laat vaar het.

9. Trouens, dit het vir ons gevoel asof die doodvonnis klaar oor ons uitgespreek is. Maar dit het gebeur, sodat ons nie op onsself sou vertrou nie, maar op God wat die dooies opwek tot die lewe.

10. Dit is Hy wat ons uit so 'n groot doodsgevaar gered het en ons weer sal red. Op Hom is ons hoop gevestig: Hy sal ons ook verder red.

11. Daartoe werk julle mee deur vir ons te bid. So sal die gebede van baie 'n seën van God vir ons bring, en dan sal baie Hom vir ons dank.

Lees volledige hoofstuk 2 Korintiërs 1