Ou Testament

Nuwe Testament

1 Timoteus 6:7-21 Afrikaans 1983 (AFR83)

7. want ons het niks in die wêreld ingebring nie; ons kan ook niks daaruit wegneem nie.

8. As ons dan kos en klere het, moet ons daarmee tevrede wees.

9. Maar dié wat ryk wil word, val in versoeking. Hulle loop hulle vas in die strik van baie sinlose en skadelike begeertes waardeur mense in verderf en ondergang gestort word.

10. Geldgierigheid is 'n wortel van allerlei kwaad. Party het geld nagejaag en toe van die geloof afgedwaal; daardeur het hulle hulleself baie ellende op die hals gehaal.

11. Maar jy, man van God, moet van hierdie dinge af wegvlug. Streef na opregtheid, toewyding aan God, geloof, liefde, volharding, minsaamheid.

12. In die goeie wedloop van die geloof moet jy al jou kragte inspan en die ewige lewe as prys behaal. Daartoe het God jou geroep en het jy die goeie belydenis voor baie getuies afgelê.

13. Voor God, wat aan alle dinge die lewe skenk, en voor Christus Jesus, wat teenoor Pontius Pilatus getuienis afgelê het van die goeie belydenis, beveel ek jou:

14. “Voer jou opdrag stiptelik en onberispelik uit tot op die dag dat ons Here Jesus Christus kom.”

15. Sy verskyning sal op die bestemde tyd plaasvind. Daarvoor sorg God, die goeie en enigste Heerser, die Koning van die konings en die Here van die heersers.

16. Hy alleen besit onsterflikheid; Hy woon in ontoeganklike lig. Geen mens het Hom gesien of kan Hom sien nie. Aan Hom kom toe eer en ewige mag! Amen.

17. Dié wat in hierdie wêreld ryk is, moet jy waarsku om nie hooghartig te wees nie. Hulle moet nie hulle hoop op die onsekerheid van rykdom vestig nie, maar op God wat alles ryklik aan ons gee om te geniet.

18. Spoor hulle aan om goed te doen, om ryk te wees in goeie dade, vrygewig en mededeelsaam.

19. So vergader hulle vir hulle 'n skat as 'n goeie belegging vir die toekoms, sodat hulle die ware lewe sal verkry.

20. Timoteus, bewaar wat aan jou toevertrou is. Vermy die onheilige en sinlose praatjies en die redenasies van die “kennis” soos dit verkeerdelik genoem word.

21. Daar is mense wat daardie “kennis” aanhang en so van die geloof afgedwaal het.Die genade sal by julle wees!

Lees volledige hoofstuk 1 Timoteus 6