Ou Testament

Nuwe Testament

1 Timoteus 6:10-17 Afrikaans 1983 (AFR83)

10. Geldgierigheid is 'n wortel van allerlei kwaad. Party het geld nagejaag en toe van die geloof afgedwaal; daardeur het hulle hulleself baie ellende op die hals gehaal.

11. Maar jy, man van God, moet van hierdie dinge af wegvlug. Streef na opregtheid, toewyding aan God, geloof, liefde, volharding, minsaamheid.

12. In die goeie wedloop van die geloof moet jy al jou kragte inspan en die ewige lewe as prys behaal. Daartoe het God jou geroep en het jy die goeie belydenis voor baie getuies afgelê.

13. Voor God, wat aan alle dinge die lewe skenk, en voor Christus Jesus, wat teenoor Pontius Pilatus getuienis afgelê het van die goeie belydenis, beveel ek jou:

14. “Voer jou opdrag stiptelik en onberispelik uit tot op die dag dat ons Here Jesus Christus kom.”

15. Sy verskyning sal op die bestemde tyd plaasvind. Daarvoor sorg God, die goeie en enigste Heerser, die Koning van die konings en die Here van die heersers.

16. Hy alleen besit onsterflikheid; Hy woon in ontoeganklike lig. Geen mens het Hom gesien of kan Hom sien nie. Aan Hom kom toe eer en ewige mag! Amen.

17. Dié wat in hierdie wêreld ryk is, moet jy waarsku om nie hooghartig te wees nie. Hulle moet nie hulle hoop op die onsekerheid van rykdom vestig nie, maar op God wat alles ryklik aan ons gee om te geniet.

Lees volledige hoofstuk 1 Timoteus 6