Ou Testament

Nuwe Testament

1 Timoteus 5:12-23 Afrikaans 1983 (AFR83)

12. Dan is hulle daaraan skuldig dat hulle hulle vroeëre belofte aan Hom verbreek het.

13. Buitendien leer hulle om hulle tyd te verkwis deur net van die een huis na die ander rond te kuier. Hulle is nie net ledig nie, maar ook bemoeisiek en praatsiek, en hulle praat oor dinge waaroor nie gepraat moet word nie.

14. Daarom verkies ek dat die jonger weduwees weer trou, kinders kry, hulle huise versorg en geen teenstander aanleiding gee om kwaad te praat van ons nie.

15. Daar is reeds party wat agter die Satan aan afgewyk het.

16. As 'n gelowige vrou weduwees in haar familie het, moet sy vir hulle sorg. Sy moet nie die las op die gemeente lê nie, sodat die gemeente die weduwees kan help wat alleen agtergelaat is.

17. Die ouderlinge wat goeie leiding gee, behoort dubbele erkenning te kry, veral dié wat hard werk deur te preek en onderrig te gee,

18. want die Skrif sê: “Jy mag nie 'n bees waarmee jy graan dors, se bek toebind nie,” en ook: “Die arbeider is geregtig op sy loon.”

19. 'n Beskuldiging teen 'n ouderling moet jy nie aanneem nie, tensy dit deur twee of drie getuies bevestig word.

20. Dié wat verkeerde dinge doen, moet jy openlik bestraf sodat die ander ook afgeskrik kan word.

21. Ek beveel jou voor God en voor Christus Jesus en die uitverkore engele om jou aan hierdie voorskrifte te hou sonder vooroordeel of partydigheid.

22. Moenie iemand oorhaastig die hande oplê en jou so aan die sondes van 'n ander medepligtig maak nie. Sorg dat jy onberispelik bly.

23. Moenie langer net water drink nie. Gebruik 'n bietjie wyn vir die maag en vir jou herhaalde ongesteldhede.

Lees volledige hoofstuk 1 Timoteus 5