hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6

Ou Testament

Nuwe Testament

1 Timoteus 5 Afrikaans 1983 (AFR83)

Herderlike vermaning

1. 'n Ouer man moet jy nie skerp teregwys nie, maar vermaan asof hy jou vader is. Vermaan die jonger mans soos jou broers,

2. die ouer vroue soos moeders, en die jonger vroue soos susters, in alle eerbaarheid.

Die weduwees

3. Versorg die weduwees wat werklik alleen agtergelaat is.

4. Maar as 'n weduwee kinders of kleinkinders het, moet die kinders leer om as gelowiges allereers hulle verpligtinge teenoor hulle eie familie na te kom en so hulle ouers en grootouers iets te vergoed. Dit is volgens die wil van God.

5. 'n Weduwee wat alleen agtergelaat is en niemand het om vir haar te sorg nie, vestig haar hoop volkome op God en volhard dag en nag met smeking en gebede.

6. Maar 'n weduwee wat uitspattig lewe, is dood, al leef sy nog.

7. Skerp ook hierdie dinge in, sodat almal onberispelik kan wees.

8. As iemand nie vir sy eie mense en veral nie vir sy huisgesin sorg nie, het hy die geloof verloën en is hy slegter as 'n ongelowige.

9. 'n Weduwee kan op die lys van dienende weduwees kom as sy minstens sestig jaar oud is en aan haar man getrou was.

10. Sy moet bekend wees om haar goeie dade, naamlik dat sy haar kinders goed opgevoed het, vreemdelinge gehuisves het, die voete van die gelowiges gewas het, die verdruktes gehelp het en goed gedoen het waar sy kon.

11. Jonger weduwees moet jy nie in die lys opneem nie. Hulle liggaamlike begeertes kan hulle daartoe bring om hulle af te wend van Christus af en weer te wil trou.

12. Dan is hulle daaraan skuldig dat hulle hulle vroeëre belofte aan Hom verbreek het.

13. Buitendien leer hulle om hulle tyd te verkwis deur net van die een huis na die ander rond te kuier. Hulle is nie net ledig nie, maar ook bemoeisiek en praatsiek, en hulle praat oor dinge waaroor nie gepraat moet word nie.

14. Daarom verkies ek dat die jonger weduwees weer trou, kinders kry, hulle huise versorg en geen teenstander aanleiding gee om kwaad te praat van ons nie.

15. Daar is reeds party wat agter die Satan aan afgewyk het.

16. As 'n gelowige vrou weduwees in haar familie het, moet sy vir hulle sorg. Sy moet nie die las op die gemeente lê nie, sodat die gemeente die weduwees kan help wat alleen agtergelaat is.

Die ouderlinge

17. Die ouderlinge wat goeie leiding gee, behoort dubbele erkenning te kry, veral dié wat hard werk deur te preek en onderrig te gee,

18. want die Skrif sê: “Jy mag nie 'n bees waarmee jy graan dors, se bek toebind nie,” en ook: “Die arbeider is geregtig op sy loon.”

19. 'n Beskuldiging teen 'n ouderling moet jy nie aanneem nie, tensy dit deur twee of drie getuies bevestig word.

20. Dié wat verkeerde dinge doen, moet jy openlik bestraf sodat die ander ook afgeskrik kan word.

Ander opdragte

21. Ek beveel jou voor God en voor Christus Jesus en die uitverkore engele om jou aan hierdie voorskrifte te hou sonder vooroordeel of partydigheid.

22. Moenie iemand oorhaastig die hande oplê en jou so aan die sondes van 'n ander medepligtig maak nie. Sorg dat jy onberispelik bly.

23. Moenie langer net water drink nie. Gebruik 'n bietjie wyn vir die maag en vir jou herhaalde ongesteldhede.

24. Party mense sondig so openlik dat hulle sondes hulle vooruitloop na die oordeel toe. By ander kom die sondes eers later aan die lig.

25. So is dit ook met goeie dade: almal kan dit sien. En dié wat nie sigbaar is nie, kan nie verborge gehou word nie.