hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6

Ou Testament

Nuwe Testament

1 Timoteus 4 Afrikaans 1983 (AFR83)

Die afvalligheid in latere tye

1. Die Gees sê uitdruklik dat in die eindtyd sommige afvallig sal word van die geloof. Hulle sal misleidende geeste navolg en die leerstellings van bose geeste aanhang.

2. Hierdie dwaalleraars is skynheilige leuenaars wie se gewete toegeskroei is.

3. Hulle verbied mense om te trou en om bepaalde soorte kos te eet. Maar God het die voedsel gemaak, sodat dié wat glo en tot die kennis van die waarheid gekom het, dit met danksegging kan gebruik.

4. Alles wat God gemaak het, is immers goed. Niks wat met danksegging ontvang word, is verwerplik nie,

5. want dit word deur die woord van God en deur die gebed geheilig.

'n Goeie dienaar van Christus Jesus

6. As jy hierdie dinge aan die broers voorhou, sal jy 'n goeie dienaar van Christus Jesus wees wat jouself voed met die woorde van die geloof en die goeie leer waarvan jy 'n aanhanger geword het.

7. Maar van onheilige en sinlose verdigsels moet jy wegbly. Oefen jou liewer om in toewyding aan God te lewe.

8. Om jou liggaam te oefen, het wel 'n bietjie waarde, maar om in toewyding aan God te lewe, het in alle opsigte groot waarde, want dit bevat 'n belofte van lewe, vir nou en die toekoms.

9. Dit is 'n betroubare woord en kan sonder voorbehoud aanvaar word.

10. Met hierdie vooruitsig span ons ons kragte in en stry ons, want ons het ons hoop op die lewende God gevestig, wat die Verlosser is van alle mense, van almal wat glo.

11. Hierdie dinge moet jy die mense beveel en leer.

12. Niemand mag op jou neersien omdat jy jonk is nie, maar wees jy vir die gelowiges 'n voorbeeld in woord en gedrag, in liefde, geloof en reinheid.

13. Totdat ek kom, moet jy jou daarop toelê om uit die Skrif voor te lees, te preek en onderrig te gee.

14. Moenie die genadegawe wat jy het, verwaarloos nie. Dit is aan jou gegee deur die profesieë toe die raad van ouderlinge jou die hande opgelê het.

15. Lê jou op hierdie dinge toe, leef daarin, sodat almal jou vordering kan sien.

16. Let goed op jou lewe en jou leer, volhard daarin, want deur dit te doen, sal jy jouself red sowel as dié wat na jou luister.