hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5

Ou Testament

Nuwe Testament

1 Tessalonisense 1 Afrikaans 1983 (AFR83)

1. Van Paulus, Silvanus en Timoteus.Aan die gemeente van die Tessalonisense, wat aan God die Vader en die Here Jesus Christus behoort.Genade en vrede vir julle!

Die voorbeeld van die Tessalonisense

2. Ons dank God altyd vir julle almal wanneer ons in ons gebede aan julle dink. Sonder ophou

3. bring ons dan voor God ons Vader in herinnering die werk van julle geloof, die inspanning van julle liefde en die volharding van julle hoop op ons Here Jesus Christus.

4. Broers, ons weet dat God julle wat Hy liefhet, uitverkies het,

5. want die evangelie wat ons aan julle verkondig het, het nie bloot met woorde tot julle gekom nie, maar ook met krag en deur die Heilige Gees en met volle oortuiging. Julle weet trouens hoe ons by julle opgetree het, en dít om julle ontwil.

6. En julle het ons voorbeeld gevolg en volgelinge van die Here geword. In baie moeilike omstandighede het julle die woord aangeneem met 'n blydskap wat van die Heilige Gees kom.

7. So het julle 'n voorbeeld geword vir al die gelowiges in Masedonië en in Agaje.

8. Van julle af is die woord van die Here in Masedonië en in Agaje verkondig, en oral het die mense gehoor van julle geloof in God, sodat dit nie vir ons nodig is om nog iets daaroor te sê nie.

9. Die mense vertel self hoe julle ons ontvang het en hoe julle julle van die afgode tot God bekeer het en nou die lewende en ware God dien

10. en dat julle sy Seun wat Hy uit die dood opgewek het, uit die hemel verwag, Jesus deur wie ons gered word van die oordeel wat kom.