hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5

Ou Testament

Nuwe Testament

1 Tessalonisense 5 Afrikaans 1983 (AFR83)

Die wederkoms van die Here

1. Oor die tyd en omstandigheid wanneer hierdie dinge sal gebeur, is dit nie nodig om aan julle te skrywe nie, broers.

2. Julle weet self maar alte goed dat die dag van die Here onverwags kom soos 'n dief in die nag.

3. Wanneer die mense sê: “Alles is rustig en veilig,” sal die ondergang hulle skielik oorval soos geboortepyne 'n swanger vrou, en niemand sal ontkom nie.

4. Maar, broers, julle leef nie in die duisternis nie; dié dag sal julle nie soos 'n dief oorval nie.

5. Julle is tog almal mense van die lig, mense van die dag; ons is nie van die nag of die duisternis nie.

6. Laat ons dan nie slaap soos die ander nie, maar laat ons wakker bly en nugter wees.

7. Dié wat slaap, is van die nag; en dié wat hulle dronk drink, is van die nag.

8. Maar ons wat van die dag is, moet nugter wees; ons moet geloof en liefde as borsharnas dra en die hoop op verlossing as helm.

9. God het ons tog nie bestem om gestraf te word nie, maar om deur ons Here Jesus Christus verlos te word.

10. Hy het ter wille van ons gesterwe, sodat ons, of ons by sy koms nog lewe of reeds dood is, saam met Hom kan lewe.

11. Praat mekaar moed in en versterk mekaar dan met hierdie woorde, soos julle trouens reeds doen.

Laaste opdragte

12. Broers, ons vra julle: Erken die mense wat so hard onder julle werk en julle in opdrag van die Here lei en teregwys.

13. Betoon in liefde die hoogste agting aan hulle ter wille van hulle werk. Leef in vrede met mekaar.

14. Ons druk julle dit op die hart, broers: Wys die leeglêers onder julle tereg, praat die kleinmoediges moed in, help die swakkes, wees met almal geduldig.

15. Sorg dat niemand 'n ander mens kwaad vir kwaad vergeld nie. Beywer julle liewer altyd vir die belange van julle medegelowiges en van alle mense.

16. Wees altyd bly.

17. Bid gedurig.

18. Wees in alle omstandighede dankbaar, want dit is wat God in Christus Jesus van julle verwag.

19. Moenie die werking van die Heilige Gees teenstaan nie.

20. Moenie profesieë geringskat nie,

21. maar toets dit alles, behou wat goed is,

22. en bly weg van alles wat sleg is.

23. Mag God, wat vrede gee, julle volkome aan Hom toegewyd maak en julle geheel en al, na gees, siel en liggaam, so bewaar dat julle onberispelik sal wees wanneer ons Here Jesus Christus weer kom!

24. Hy sal dit ook doen, want Hy wat julle roep, is getrou.

25. Broers, bid ook vir ons.

26. Groet al die medegelowiges met 'n soen van Christelike broederskap.

27. In die Naam van die Here dring ek by julle daarop aan dat hierdie brief aan al die gelowiges voorgelees word.

28. Die genade van ons Here Jesus Christus sal by julle wees.