Ou Testament

Nuwe Testament

1 Korintiërs 9:9-20 Afrikaans 1983 (AFR83)

9. In die wet van Moses staan daar tog geskrywe: “Jy mag nie 'n bees waarmee jy graan dors, se bek toebind nie.” Is dit miskien oor die beeste dat God Hom bekommer?

10. Of sê Hy dit juis ter wille van óns? Ja, ter wille van ons is dit geskrywe. Hy wat ploeg, moet met verwagting ploeg, en hy wat dors, moet dit doen met die verwagting om sy deel te ontvang.

11. As ons vir julle die geestelike saad gesaai het, is dit dan te veel gevra as ons van julle die stoflike lewensonderhoud sou inoes?

12. As julle aan ander hierdie reg toestaan, kom dit ons dan nie nog meer toe nie?Maar van hierdie reg het ons nie gebruik gemaak nie. Inteendeel, ons dra al die koste self sodat ons geen hindernis in die weg van die evangelie van Christus sou lê nie.

13. Weet julle nie dat dié wat tempeldiens verrig, uit die tempel lewe, en dat dié wat die altaar bedien, uit die offers hulle deel ontvang nie?

14. So het die Here ook bepaal dat dié wat die evangelie verkondig, hulle lewensonderhoud uit die verkondiging van die evangelie moet ontvang.

15. Wat my betref, ek het hiervan geen gebruik gemaak nie. Ek skryf dit ook nie met die bedoeling om daarop aanspraak te maak nie. Ek gaan liewer dood! Dié roem sal niemand my ontneem nie!

16. As ek die evangelie verkondig, is dit nie vir my 'n rede om te roem nie. Ek verkondig die evangelie omdat ek móét! En wee my as ek dit nie doen nie!

17. As ek dit uit eie keuse doen, kan ek op loon aanspraak maak, maar ek doen dit nie uit eie keuse nie: dit is 'n taak wat aan my toevertrou is.

18. Wat is my loon dan? Dit is dat ek as prediker die evangelie kosteloos verkondig en so afstand doen van my reg wat aan die verkondiging van die evangelie verbonde is.

19. Hoewel ek vry is en van niemand afhanklik nie, het ek my aan almal diensbaar gestel om soveel mense as moontlik vir Christus te wen.

20. Vir die Jode het ek soos 'n Jood geword om Jode te wen. Hoewel ek self nie meer onder die wet is nie, het ek my vir dié wat onder die wet staan, onder die wet gestel om hulle te wen.

Lees volledige hoofstuk 1 Korintiërs 9