Ou Testament

Nuwe Testament

1 Korintiërs 9:2-17 Afrikaans 1983 (AFR83)

2. Al is ek vir ander nie 'n apostel nie, vir julle is ek dit tog. Immers, julle wat aan die Here behoort, is die seël op my apostelskap.

3. My verdediging teen dié wat regter oor my speel, is dít:

4. het ons dan nie reg op lewensonderhoud nie?

5. Het ons nie selfs die reg om elkeen sy vrou wat 'n gelowige is, op reis saam te neem soos ook die ander apostels en die Here se broers en Sefas nie?

6. Of is dit net ek en Barnabas wat nie die reg het om op te hou met die handearbeid vir eie onderhoud nie?

7. Wie dien ooit op eie koste as soldaat? Wie plant 'n wingerd en eet nie van sy vrugte nie? Of wie pas vee op en geniet nie van hulle melk nie?

8. Wat ek sê, is nie maar net alledaagse waarhede nie. Sê die wet dit nie ook nie?

9. In die wet van Moses staan daar tog geskrywe: “Jy mag nie 'n bees waarmee jy graan dors, se bek toebind nie.” Is dit miskien oor die beeste dat God Hom bekommer?

10. Of sê Hy dit juis ter wille van óns? Ja, ter wille van ons is dit geskrywe. Hy wat ploeg, moet met verwagting ploeg, en hy wat dors, moet dit doen met die verwagting om sy deel te ontvang.

11. As ons vir julle die geestelike saad gesaai het, is dit dan te veel gevra as ons van julle die stoflike lewensonderhoud sou inoes?

12. As julle aan ander hierdie reg toestaan, kom dit ons dan nie nog meer toe nie?Maar van hierdie reg het ons nie gebruik gemaak nie. Inteendeel, ons dra al die koste self sodat ons geen hindernis in die weg van die evangelie van Christus sou lê nie.

13. Weet julle nie dat dié wat tempeldiens verrig, uit die tempel lewe, en dat dié wat die altaar bedien, uit die offers hulle deel ontvang nie?

14. So het die Here ook bepaal dat dié wat die evangelie verkondig, hulle lewensonderhoud uit die verkondiging van die evangelie moet ontvang.

15. Wat my betref, ek het hiervan geen gebruik gemaak nie. Ek skryf dit ook nie met die bedoeling om daarop aanspraak te maak nie. Ek gaan liewer dood! Dié roem sal niemand my ontneem nie!

16. As ek die evangelie verkondig, is dit nie vir my 'n rede om te roem nie. Ek verkondig die evangelie omdat ek móét! En wee my as ek dit nie doen nie!

17. As ek dit uit eie keuse doen, kan ek op loon aanspraak maak, maar ek doen dit nie uit eie keuse nie: dit is 'n taak wat aan my toevertrou is.

Lees volledige hoofstuk 1 Korintiërs 9