Ou Testament

Nuwe Testament

1 Korintiërs 15:2-16 Afrikaans 1983 (AFR83)

2. Deur dié evangelie word julle ook gered as julle vashou aan die boodskap soos ek dit aan julle verkondig het. As julle aan iets anders vashou, het julle tevergeefs tot geloof gekom.

3. Die belangrikste wat ek aan julle oorgelewer het en wat ek ook ontvang het, is dit: Christus het vir ons sondes gesterf, volgens die Skrifte;

4. Hy is begrawe en op die derde dag opgewek, volgens die Skrifte.

5. Hy het aan Sefas verskyn, daarna aan die twaalf,

6. en daarna aan meer as vyf honderd broers tegelyk, van wie sommige al dood is maar die meeste nou nog lewe.

7. Daarna het Hy aan Jakobus verskyn en toe aan al die apostels.

8. Heel laaste het Hy ook aan my, die ontydig geborene, verskyn.

9. Ek is immers die geringste van die apostels en is nie werd om 'n apostel genoem te word nie, omdat ek die kerk van God vervolg het.

10. Maar deur die genade van God is ek wat ek is. Sy genade aan my was nie tevergeefs nie; inteendeel, ek het harder gewerk as hulle almal; eintlik was dit nie ek nie, maar die genade van God wat by my is.

11. In elk geval, of dit ek is of hulle — dit is wat ons verkondig, en dit is wat julle geglo het.

12. As ons dan verkondig dat Christus uit die dood opgewek is, hoe kan party van julle nog beweer dat daar geen opstanding van die dooies is nie?

13. As daar geen opstanding van die dooies is nie, beteken dit dat Christus ook nie opgewek is nie.

14. En as Christus nie opgewek is nie, is ons prediking sonder inhoud en julle geloof ook sonder inhoud.

15. Verder sou dit beteken dat ons vals getuienis oor God afgelê het, omdat ons teen God in getuig het dat Hy Christus opgewek het. As dit dan waar is dat die dooies nie opgewek word nie, het Hy Christus ook nie opgewek nie.

16. As die dooies nie opgewek word nie, is Christus ook nie opgewek nie.

Lees volledige hoofstuk 1 Korintiërs 15