Ou Testament

Nuwe Testament

1 Korintiërs 15:10-24 Afrikaans 1983 (AFR83)

10. Maar deur die genade van God is ek wat ek is. Sy genade aan my was nie tevergeefs nie; inteendeel, ek het harder gewerk as hulle almal; eintlik was dit nie ek nie, maar die genade van God wat by my is.

11. In elk geval, of dit ek is of hulle — dit is wat ons verkondig, en dit is wat julle geglo het.

12. As ons dan verkondig dat Christus uit die dood opgewek is, hoe kan party van julle nog beweer dat daar geen opstanding van die dooies is nie?

13. As daar geen opstanding van die dooies is nie, beteken dit dat Christus ook nie opgewek is nie.

14. En as Christus nie opgewek is nie, is ons prediking sonder inhoud en julle geloof ook sonder inhoud.

15. Verder sou dit beteken dat ons vals getuienis oor God afgelê het, omdat ons teen God in getuig het dat Hy Christus opgewek het. As dit dan waar is dat die dooies nie opgewek word nie, het Hy Christus ook nie opgewek nie.

16. As die dooies nie opgewek word nie, is Christus ook nie opgewek nie.

17. En as Christus nie opgewek is nie, is julle geloof waardeloos en is julle nog gevange in julle sondes.

18. Dan is ook dié wat in Christus gesterf het, verlore.

19. As ons net vir hierdie lewe ons hoop op Christus vestig, is ons die bejammerenswaardigste van alle mense.

20. Maar nou, Christus is opgewek uit die dood, as eersteling uit dié wat gesterf het.

21. Aangesien die dood deur 'n mens gekom het, het die opstanding van die dooies ook deur 'n mens gekom.

22. Net soos almal deur hulle verbondenheid met Adam sterf, so sal almal in Christus lewend gemaak word.

23. Maar daar is 'n volgorde: die eersteling is Christus, daarna, by Christus se koms, dié wat aan Hom behoort.

24. Daarna kom die einde, wanneer Hy die koningskap aan God die Vader oordra, nadat Hy elke mag, elke gesag en krag vernietig het.

Lees volledige hoofstuk 1 Korintiërs 15