Ou Testament

Nuwe Testament

1 Johannes 5:10-21 Afrikaans 1983 (AFR83)

10. Wie in die Seun van God glo, besit die getuienis in sy hart; wie God nie glo nie, maak Hom tot leuenaar, omdat hy nie die getuienis glo wat God oor sy Seun gelewer het nie.

11. En die getuienis behels dít: God het ons die ewige lewe gegee, en dié lewe is deur sy Seun.

12. Wie die Seun het, het die lewe; wie nie die Seun van God het nie, het ook nie die lewe nie.

13. Hierdie brief skrywe ek vir julle, sodat julle kan weet dat julle die ewige lewe het, julle wat in die Seun van God glo.

14. En nou kan ons met vrymoedigheid na God gaan, omdat Hy ons gebede verhoor as ons enigiets volgens sy wil vra.

15. En aangesien ons weet dat Hy ons gebede verhoor as ons iets só vra, weet ons ook dat ons kry wat ons van Hom vra.

16. As iemand sy broer sonde sien doen wat nie tot die dood lei nie, moet hy bid en God sal die broer die ewige lewe gee. Dit geld dié wat sonde doen wat nie tot die dood lei nie. Daar is sonde wat tot die dood lei; daarvoor sê ek nie dat hy moet bid nie.

17. Alle ongeregtigheid is sonde, maar daar is sonde wat nie tot die dood lei nie.

18. Ons weet dat iemand wat uit God gebore is, nie meer sondig nie, maar die Seun van God bewaar hom, en die duiwel kry geen houvas op hom nie.

19. Ons weet dat ons aan God behoort en dat die hele sondige wêreld in die mag van die duiwel is.

20. En ons weet dat die Seun van God gekom het en ons verstand gegee het om die ware God te ken; en ons is in die ware God, in sy Seun, Jesus Christus. Hy is die ware God en die ewige lewe.

21. Liewe kinders, bly dus weg van die afgode af.

Lees volledige hoofstuk 1 Johannes 5