hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5

Ou Testament

Nuwe Testament

1 Johannes 5 Afrikaans 1983 (AFR83)

Liefde en geloof

1. Elkeen wat glo dat Jesus die Christus is, is 'n kind van God; en elkeen wat vir die Vader liefhet, het ook die ander lief wat kinders van die Vader is.

2. Hiéraan weet ons dat ons die kinders van God liefhet: wanneer ons God liefhet en sy gebooie onderhou.

3. Die liefde vir God bestaan dan daarin dat ons sy gebooie gehoorsaam. Sy gebooie is ook nie moeilik om te gehoorsaam nie,

4. want enigeen wat 'n kind van God is, kan die sondige wêreld oorwin. En die oorwinning wat ons oor die wêreld behaal het, is deur ons geloof.

5. Wie anders is dit wat die wêreld oorwin as hy wat glo dat Jesus die Seun van God is?

Die getuienis oor Jesus Christus

6. Die Een wat deur die water van sy doop en die bloed van sy dood na ons toe gekom het, is Jesus Christus; nie net deur die water nie, maar deur die water én die bloed. Die Gees is die getuie daarvan, en die Gees is die waarheid.

7. Daar is dus drie wat getuig:

8. die Gees en die water en die bloed, en die drie se getuienis stem ooreen.

9. Ons aanvaar mense se getuienis, hoeveel te meer die getuienis van God, want dit is God wat getuig, en die getuienis handel oor sy Seun.

10. Wie in die Seun van God glo, besit die getuienis in sy hart; wie God nie glo nie, maak Hom tot leuenaar, omdat hy nie die getuienis glo wat God oor sy Seun gelewer het nie.

11. En die getuienis behels dít: God het ons die ewige lewe gegee, en dié lewe is deur sy Seun.

12. Wie die Seun het, het die lewe; wie nie die Seun van God het nie, het ook nie die lewe nie.

Die doel van die brief

13. Hierdie brief skrywe ek vir julle, sodat julle kan weet dat julle die ewige lewe het, julle wat in die Seun van God glo.

Voorbidding

14. En nou kan ons met vrymoedigheid na God gaan, omdat Hy ons gebede verhoor as ons enigiets volgens sy wil vra.

15. En aangesien ons weet dat Hy ons gebede verhoor as ons iets só vra, weet ons ook dat ons kry wat ons van Hom vra.

16. As iemand sy broer sonde sien doen wat nie tot die dood lei nie, moet hy bid en God sal die broer die ewige lewe gee. Dit geld dié wat sonde doen wat nie tot die dood lei nie. Daar is sonde wat tot die dood lei; daarvoor sê ek nie dat hy moet bid nie.

17. Alle ongeregtigheid is sonde, maar daar is sonde wat nie tot die dood lei nie.

Ons ken die ware God

18. Ons weet dat iemand wat uit God gebore is, nie meer sondig nie, maar die Seun van God bewaar hom, en die duiwel kry geen houvas op hom nie.

19. Ons weet dat ons aan God behoort en dat die hele sondige wêreld in die mag van die duiwel is.

20. En ons weet dat die Seun van God gekom het en ons verstand gegee het om die ware God te ken; en ons is in die ware God, in sy Seun, Jesus Christus. Hy is die ware God en die ewige lewe.

21. Liewe kinders, bly dus weg van die afgode af.