Ou Testament

Nuwe Testament

Rigters 6:4-18 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

4. slaan laers teen hulle op en verwoes die opbrings van die land in die rigting na Gasa, en hulle laat geen lewensmiddele, geen skaap of bees of esel in Israel oorbly nie.

5. Want hulle het met hul vee en hul tente opgetrek en gekom soos sprinkane in menigte, terwyl hulle en hul kamele ontelbaar was; so het hulle dan die land ingekom om dit te verwoes.

6. En Israel het deur die Midianiete baie arm geword, maar die kinders van Israel het die Here aangeroep.

7. En toe die kinders van Israel die Here aanroep vanweë die Midianiete,

8. het die Here ’n profeet na die kinders van Israel gestuur, en dié het vir hulle gesê: So spreek die Here, die God van Israel: Ek self het julle laat optrek uit Egipte en julle uit die slawehuis uitgelei

9. en julle gered uit die hand van die Egiptenaars en uit die hand van al julle verdrukkers en hulle voor julle uit verdrywe en hulle land aan julle gegee.

10. En Ek het aan julle gesê: Ek is die Here julle God; julle mag die gode van die Amoriete in wie se land julle woon, nie vrees nie. Maar julle het nie na my stem geluister nie.

11. Toe het die Engel van die Here gekom en gaan sit onder die terpentynboom wat by Ofra staan, wat aan Joas, die Abiësriet, behoort het, terwyl sy seun Gídeon juis koring uitslaan in die parskuip om dit te beveilig teen die Midianiete.

12. En die Engel van die Here het aan hom verskyn en vir hom gesê: Die Here is met jou, dapper held!

13. Toe vra Gídeon Hom: Ag, my heer, as die Here met ons is, waarom het al hierdie dinge ons dan oorgekom? En waar is al sy wonders waar ons vaders ons van vertel het, deur te sê: Het die Here ons nie uit Egipte laat optrek nie? Maar nou het die Here ons verwerp en ons oorgegee in die hand van die Midianiete.

14. Toe draai die Here na hom toe en sê: Gaan in hierdie krag van jou en verlos Israel uit die hand van die Midianiete. Is dit nie Ek wat jou stuur nie?

15. Maar hy vra Hom: Ag, Here, waarmee sou ek Israel verlos? Kyk, my geslag is die swakste in Manasse, en ek self die geringste in my familie.

16. Toe sê die Here vir hom: Ek sal met jou wees, sodat jy die Midianiete soos een man sal verslaan.

17. En hy antwoord Hom: As ek dan guns in u oë gevind het, doen vir my ’n teken, dat U dit is wat met my spreek.

18. Verwyder U tog nie hiervandaan voordat ek by U kom en my gawe uitbring en voor U neersit nie. Hy sê toe: Ek sal bly totdat jy terugkom.

Lees volledige hoofstuk Rigters 6