Ou Testament

Nuwe Testament

Númeri 27:11-22 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

11. En as sy vader geen broers het nie, moet julle sy erfdeel aan sy bloedverwant gee wat naaste aan hom is uit sy geslag, en dié moet dit in besit neem. En dit moet vir die kinders van Israel ’n regsinsetting wees, soos die Here Moses beveel het.

12. DAARNA het die Here aan Moses gesê: Klim op hierdie gebergte Abárim, en bekyk die land wat Ek aan die kinders van Israel gegee het.

13. En as jy dit gesien het, sal jy ook by jou volksgenote versamel word soos jou broer Aäron versamel is;

14. omdat julle in die woestyn Sin, toe die vergadering getwis het, teen my bevel wederstrewig gewees het om My by die water voor hulle oë te heilig. Dit is die water van Mériba by Kades, in die woestyn Sin.

15. Toe het Moses met die Here gespreek en gesê:

16. Laat die Here, die God van die geeste van alle vlees, ’n man oor die vergadering aanstel

17. wat voor hulle uittrek en wat voor hulle intrek, en wat hulle uitlei en wat hulle inlei; sodat die vergadering van die Here nie mag wees soos skape wat geen wagter het nie.

18. Toe sê die Here aan Moses: Neem vir jou Josua, die seun van Nun, ’n man in wie die Gees is; en lê hom die hand op,

19. en stel hom voor die priester Eleásar en voor die hele vergadering, en gee hom ’n opdrag voor hulle oë;

20. en lê op hom van jou hoogheid, sodat die hele vergadering van die kinders van Israel na hom kan luister.

21. En hy moet voor die priester Eleásar staan, dat dié vir hom die beslissing van die Urim kan vra voor die aangesig van die Here; volgens sy uitspraak moet hulle uittrek en volgens sy uitspraak moet hulle intrek, hy en al die kinders van Israel saam met hom en die hele vergadering.

22. En Moses het gedoen soos die Here hom beveel het: hy het Josua geneem en hom voor die priester Eleásar en voor die hele vergadering gestel,

Lees volledige hoofstuk Númeri 27