Ou Testament

Nuwe Testament

Númeri 18:23-32 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

23. Maar die Leviete, dié moet die dienswerk by die tent van samekoms verrig, en hulle moet hul ongeregtigheid dra — ’n ewige insetting in julle geslagte. En onder die kinders van Israel moet hulle geen erfdeel kry nie.

24. Want die tiendes van die kinders van Israel wat hulle aan die Here as offergawe afgee, gee Ek aan die Leviete as erfdeel. Daarom het Ek aangaande hulle gesê: Hulle moet onder die kinders van Israel geen erfdeel kry nie.

25. En die Here het met Moses gespreek en gesê:

26. Jy moet ook met die Leviete spreek en aan hulle sê: As julle van die kinders van Israel die tiendes neem wat Ek aan julle van hulle as jul erfdeel gegee het, moet julle daarvan ’n offergawe aan die Here afgee, ’n tiende van die tiende.

27. En julle offergawe sal vir julle gereken word soos koring van die dorsvloer af en soos die volle opbrings uit die parskuip.

28. Só moet julle ook ’n offergawe aan die Here afgee van al julle tiendes wat julle van die kinders van Israel neem, en julle moet daarvan die offergawe aan die Here aan die priester Aäron gee.

29. Van al jul gawes moet julle die hele offergawe aan die Here afgee, van al die beste daarvan, as die heilige gawe wat daarvan moet afgaan.

30. Jy moet dan vir hulle sê: As julle die beste daarvan afgee, sal dit vir die Leviete gereken word as opbrings van die dorsvloer en as opbrings van die parskuip.

31. En julle mag dit op enige plek eet, julle en jul huisgesin; want dit is vir julle ’n loon vir jul dienswerk by die tent van samekoms.

32. En julle sal daarby geen sonde op julle laai as julle die beste deel daarvan afgee nie; en julle mag die heilige gawes van die kinders van Israel nie ontheilig nie, sodat julle nie sterwe nie.

Lees volledige hoofstuk Númeri 18