Ou Testament

Nuwe Testament

Númeri 18:11-23 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

11. Dit moet ook joue wees: die offergawe van hulle geskenke, van al die beweegoffers van die kinders van Israel; Ek gee dit aan jou en jou seuns en jou dogters saam met jou as ’n ewige insetting. Elkeen wat rein is in jou huis, mag dit eet.

12. Al die beste van die olie en al die beste van die mos en die koring, die eerste daarvan wat hulle aan die Here gee, dit gee Ek aan jou.

13. Die eerstelinge van alles wat in hulle land is, wat hulle aan die Here bring, moet joue wees. Elkeen wat rein is in jou huis, mag dit eet.

14. Alles wat onder die ban is in Israel, moet joue wees.

15. Alles wat die moederskoot open — alle vlees wat hulle vir die Here aanbring, mense en diere — moet joue wees; maar die eersgeborenes van mense moet jy sekerlik loskoop; ook moet jy die eersgeborenes van onrein diere loskoop.

16. En wat die loskoping daarvan aangaan: vanaf ’n maand oud moet jy loskoop, volgens jou skatting, vir ’n geldsom van vyf sikkels volgens die sikkel van die heiligdom; dit is twintig gera.

17. Maar die eersgeborene van ’n bees of die eersgeborene van ’n skaap of die eersgeborene van ’n bok moet jy nie loskoop nie; heilig is hulle; hulle bloed moet jy uitgooi teen die altaar en hulle vet aan die brand steek as ’n vuuroffer van lieflike geur aan die Here.

18. En hulle vleis moet joue wees; soos die bors van die beweegoffer en die regterboud moet dit joue wees.

19. Al die offergawes van die heilige dinge wat die kinders van Israel aan die Here afgee, gee Ek aan jou en jou seuns en jou dogters saam met jou as ’n ewige insetting. Dit is ’n ewige soutverbond voor die aangesig van die Here, vir jou en jou nageslag saam met jou.

20. Ook het die Here vir Aäron gesê: Jy sal in hulle land nie erwe nie, en jy sal geen deel onder hulle hê nie. Ek is jou deel en jou erfenis onder die kinders van Israel.

21. En kyk, Ek gee aan die kinders van Levi al die tiendes in Israel as erfdeel vir hulle dienswerk wat hulle verrig, die dienswerk van die tent van samekoms.

22. En die kinders van Israel moet nie meer nader kom na die tent van samekoms om sonde op hulle te laai sodat hulle sterwe nie.

23. Maar die Leviete, dié moet die dienswerk by die tent van samekoms verrig, en hulle moet hul ongeregtigheid dra — ’n ewige insetting in julle geslagte. En onder die kinders van Israel moet hulle geen erfdeel kry nie.

Lees volledige hoofstuk Númeri 18