Ou Testament

Nuwe Testament

Númeri 15:10-27 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

10. En vir die drankoffer moet jy ’n half-hin wyn bring, as vuuroffer van lieflike geur aan die Here.

11. So moet gedoen word by elke bees of by elke ram of by ’n lam van die skape of van die bokke.

12. Volgens die getal wat julle berei — so moet julle doen by elkeen volgens hulle getal.

13. Elke kind van die land moet hierdie dinge op dieselfde manier doen, om ’n vuuroffer van lieflike geur aan die Here te bring.

14. En as ’n vreemdeling by julle vertoef, of hy wat vir geslagte onder julle is, en ’n vuuroffer van lieflike geur vir die Here berei — soos julle doen, so moet hy doen.

15. Wat die vergadering aangaan, een en dieselfde insetting geld vir julle en vir die vreemdeling wat by julle vertoef. ’n Ewige insetting in julle geslagte is dit: soos julle, so moet die vreemdeling voor die aangesig van die Here wees.

16. Een wet en een reg moet geld vir julle en vir die vreemdeling wat by julle vertoef.

17. Verder het die Here met Moses gespreek en gesê:

18. Spreek met die kinders van Israel en sê vir hulle: As julle in die land kom waarheen Ek julle bring,

19. moet julle, as julle van die brood van die land eet, ’n offergawe aan die Here afgee.

20. As eersteling van julle growwe meel moet julle ’n koek as offergawe afgee; net soos die offergawe van die dorsvloer, so moet julle dit afgee.

21. Van die eerstelinge van julle growwe meel moet julle ’n offergawe aan die Here gee in julle geslagte.

22. Verder, as julle jul misgaan en nie al hierdie gebooie doen wat die Here aan Moses meegedeel het nie —

23. alles wat die Here julle deur Moses beveel het van die dag af dat die Here dit beveel het en verder in julle geslagte —

24. dan moet die hele vergadering, as dit buiten wete van die vergadering, in swakheid gebeur het, een jong bul berei vir ’n brandoffer as lieflike geur aan die Here, met die spysoffer en die drankoffer wat volgens voorskrif daarby behoort; en een bokram as sondoffer.

25. En die priester moet versoening doen vir die hele vergadering van die kinders van Israel, en dit sal hulle vergewe word; want ’n swakheid was dit, en húlle het hul offer as vuuroffer aan die Here en hul sondoffer, weens hulle swakheid, voor die aangesig van die Here gebring.

26. Dit sal dan die hele vergadering van die kinders van Israel vergewe word, ook die vreemdeling wat onder hulle vertoef; want dit het die hele volk deur swakheid oorgekom.

27. En as ’n enkele siel in swakheid sondig, moet dié ’n jaaroud bokooi as sondoffer bring.

Lees volledige hoofstuk Númeri 15