Ou Testament

Nuwe Testament

Nehemía 13:17-31 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

17. En ek het met die edeles van Juda getwis en vir hulle gesê: Watter verkeerde ding is dit wat julle doen, dat julle die sabbatdag ontheilig?

18. Het julle vaders nie so gehandel, sodat onse God oor ons en oor hierdie stad al hierdie onheil gebring het nie? Ja, julle vermeerder die toorngloed oor Israel deur die sabbat te ontheilig!

19. En sodra dit in die poorte van Jerusalem voor die sabbat donker was, het ek gesê dat die deure gesluit moes word; en ek het gesê dat hulle dit nie mag oopmaak tot ná die sabbat nie, en van my mense het ek by die poorte aangestel: geen vrag het op die sabbatdag mag inkom nie.

20. Toe het die koopmans en handelaars in allerhande koopware ’n paar keer buitekant Jerusalem vernag.

21. Maar ek het hulle gewaarsku en vir hulle gesê: Waarom vernag julle voor die muur? As julle dit weer doen, sal ek die hand aan julle slaan. Van dié tyd af het hulle nie meer op die sabbat gekom nie.

22. Verder het ek aan die Leviete gesê dat hulle hul moes reinig en kom as poortwagters om die sabbatdag te heilig. Dink ook hierom aan my, my God, en ontferm U oor my na die grootheid van u goedertierenheid.

23. In dié dae het ek ook Jode gesien wat Asdodiese, Ammonitiese, Moabitiese vroue getrou het.

24. En van hulle kinders het die helfte Asdodies gepraat, of die taal van watter volk ook al; maar hulle kon geen Joods praat nie.

25. Daarom het ek met hulle getwis en hulle gevloek, en sommige van hulle geslaan en die hare uitgepluk en hulle by God besweer: Julle mag julle dogters nie aan hulle seuns gee, en julle mag nie van hulle dogters vir julle seuns of vir julleself neem nie!

26. Het Salomo, die koning van Israel, nie deur hulle gesondig nie? Alhoewel daar onder baie nasies nie ’n koning gewees het soos hy nie en hy ’n liefling van sy God was, sodat God hom as koning aangestel het oor die hele Israel, het die vreemde vroue hom tog sonde laat doen.

27. Moet ons nou van julle hoor dat julle al hierdie groot kwaad doen, om ontrou te handel teen God deur vreemde vroue te trou?

28. En een van die seuns van Jójada, die seun van die hoëpriester Éljasib, was ’n skoonseun van Sanbállat, die Horoniet; daarom het ek hom van my af weggeja.

29. Dink aan hulle, my God, oor die bevlekking van die priesterskap en van die verbond met die priesterskap en met die Leviete.

30. So het ek hulle dan gereinig van al wat vreemd was, en die diensordeninge vir die priesters en die Leviete vasgestel, vir elkeen in sy werk,

31. ook vir die lewering van hout op vasgestelde tye en vir die eerstelinge. Dink aan my, my God, ten goede!

Lees volledige hoofstuk Nehemía 13