Ou Testament

Nuwe Testament

Levítikus 26:32-45 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

32. Ja, Ek self sal die land verwoes, sodat julle vyande wat daarin gaan woon, daaroor verstom sal staan.

33. En Ek sal julle onder die volke verstrooi en ’n swaard agter julle uittrek; en julle land sal ’n wildernis en julle stede puinhope word.

34. Dan sal die land vir sy sabbatte vergoeding kry, al die dae van sy verwoesting, terwyl julle in die land van julle vyande is; dan sal die land rus en vir sy sabbatte vergoeding gee.

35. Al die dae van sy verwoesting sal dit rus — die rus wat dit nie gehad het in julle sabbatte toe julle daarin gewoon het nie.

36. En wat aangaan diegene wat onder julle oorgebly het — Ek sal in hulle hart ’n vreesagtigheid bring in die lande van hulle vyande, sodat die geruis van ’n verwaaide blaar hulle op die loop sal ja; en hulle sal vlug, soos ’n mens vir ’n swaard vlug en val sonder dat iemand agtervolg.

37. En hulle sal struikel die een oor die ander soos vir die swaard, alhoewel niemand agtervolg nie; en julle sal voor julle vyande nie kan standhou nie.

38. Maar julle sal omkom onder die nasies, en die land van julle vyande sal julle verteer.

39. En die wat onder julle oorgebly het, sal oor hulle ongeregtigheid wegteer in die lande van julle vyande, ja, ook oor die ongeregtighede van hulle vaders saam met hulle wegteer.

40. Dan sal hulle hul ongeregtigheid bely en die ongeregtigheid van hulle vaders deurdat hulle ontrou teen my gehandel het; en ook dat hulle hul teen My versit het,

41. sodat Ék My ook teen hulle versit het en hulle in die land van hulle vyande moes bring; of, as hulle onbesnede hart hom dan verneder en hulle dan boet vir hul ongeregtigheid,

42. sal Ek dink aan my verbond met Jakob; en ook aan my verbond met Isak en ook aan my verbond met Abraham sal Ek dink, en aan die land sal Ek dink.

43. Maar die land moet eers van hulle verlate wees en moet vir sy sabbatte vergoeding kry, terwyl dit woes lê sonder hulle; en húlle sal vir hul ongeregtigheid boet, omdat, ja, omdat hulle my verordeninge verwerp en hulle siel van my insettinge ’n afsku gehad het.

44. Maar ook dan, as hulle in die land van hul vyande is, verwerp Ek hulle nie en het Ek van hulle geen afsku, sodat Ek ’n einde aan hulle sou maak en my verbond met hulle sou verbreek nie; want Ek is die Here hulle God.

45. Maar Ek sal tot hulle beswil dink aan die verbond van die voorvaders wat Ek uit Egipteland voor die oë van die nasies uitgelei het om vir hulle ’n God te wees. Ek is die Here.

Lees volledige hoofstuk Levítikus 26