Ou Testament

Nuwe Testament

Levítikus 20:6-19 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

6. En as ’n persoon hom begewe tot die geeste van afgestorwenes en die geeste wat waarsê om agter hulle aan te hoereer, sal Ek my aangesig teen dié persoon rig en hom uitroei onder sy volk uit.

7. Toon dan dat julle heilig is en wees heilig, want Ek is die Here julle God.

8. En onderhou my insettinge en doen dit. Ek is die Here wat julle heilig.

9. Want elkeen wat sy vader of moeder vloek, moet sekerlik gedood word. Hy het sy vader of sy moeder gevloek. Sy bloedskuld is op hom.

10. En as iemand owerspel doen met ’n man se vrou, owerspel doen met sy naaste se vrou, moet hy en sy wat owerspel doen, sekerlik gedood word.

11. En as ’n man met sy vader se vrou gemeenskap het, het hy die skaamte van sy vader ontbloot. Hulle altwee moet sekerlik gedood word. Hulle bloedskuld is op hulle.

12. En as ’n man met sy skoondogter gemeenskap het, moet hulle altwee sekerlik gedood word. Hulle het ’n gruwelike vermenging bewerk. Hulle bloedskuld is op hulle.

13. En as ’n man met ’n manspersoon gemeenskap het soos ’n mens met ’n vrou het, het hulle altwee iets gruweliks gedoen. Hulle moet sekerlik gedood word. Hulle bloedskuld is op hulle.

14. En as ’n man ’n vrou en haar moeder neem, is dit ’n skandelike daad; hulle moet hom en dié twee met vuur verbrand: daar mag geen bloedskande onder julle wees nie.

15. En as ’n man vleeslike gemeenskap het met ’n dier, moet hy sekerlik gedood word, en die dier moet julle doodslaan.

16. En as ’n vrou naby enige dier kom om daarmee te doen te hê, moet jy die vrou en die dier doodslaan. Hulle moet sekerlik gedood word. Hulle bloedskuld is op hulle.

17. En as ’n man sy suster neem, sy vader se dogter of sy moeder se dogter, en hy haar skaamte sien en sy sy skaamte sien, is dit ’n skande. Daarom moet hulle voor die oë van die kinders van hulle volk uitgeroei word. Hy het die skaamte van sy suster ontbloot; hy moet sy ongeregtigheid dra.

18. En as ’n man met ’n vrou gemeenskap het wat onwel is, en haar skaamte ontbloot — hy het haar fontein ontbloot en sý die fontein van haar bloed — dan moet hulle altwee uitgeroei word onder hulle volk uit.

19. Ook mag jy die skaamte van jou moeder se suster en van jou vader se suster nie ontbloot nie, want hy het sy bloedverwante ontbloot; hulle moet hul ongeregtigheid dra.

Lees volledige hoofstuk Levítikus 20