Ou Testament

Nuwe Testament

Levítikus 20:16-27 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

16. En as ’n vrou naby enige dier kom om daarmee te doen te hê, moet jy die vrou en die dier doodslaan. Hulle moet sekerlik gedood word. Hulle bloedskuld is op hulle.

17. En as ’n man sy suster neem, sy vader se dogter of sy moeder se dogter, en hy haar skaamte sien en sy sy skaamte sien, is dit ’n skande. Daarom moet hulle voor die oë van die kinders van hulle volk uitgeroei word. Hy het die skaamte van sy suster ontbloot; hy moet sy ongeregtigheid dra.

18. En as ’n man met ’n vrou gemeenskap het wat onwel is, en haar skaamte ontbloot — hy het haar fontein ontbloot en sý die fontein van haar bloed — dan moet hulle altwee uitgeroei word onder hulle volk uit.

19. Ook mag jy die skaamte van jou moeder se suster en van jou vader se suster nie ontbloot nie, want hy het sy bloedverwante ontbloot; hulle moet hul ongeregtigheid dra.

20. En as ’n man met sy tante gemeenskap het, het hy die skaamte van sy oom ontbloot. Hulle moet hul sonde dra; sonder kinders sal hulle sterwe.

21. En as ’n man sy broer se vrou neem, is dit bloedskande. Hy het die skaamte van sy broer ontbloot; sonder kinders sal hulle wees.

22. Onderhou dan al my insettinge en al my verordeninge en doen dit, dat die land waarheen Ek julle bring om daarin te woon, julle nie uitspuug nie.

23. En julle mag nie wandel in die insettinge van die nasie wat Ek voor julle uit verdrywe nie; want al hierdie dinge het hulle gedoen; daarom het Ek ’n afsku van hulle gekry.

24. En Ek het vir julle gesê: Júlle sal hulle land in besit neem, en Ék sal dit aan julle as besitting gee, ’n land wat oorloop van melk en heuning. Ek is die Here julle God wat julle van die volke afgesonder het.

25. Daarom moet julle ’n onderskeid maak tussen die rein en onrein diere, en tussen die onrein en rein voëls; en maak julleself nie ’n gruwel deur diere of deur voëls of deur enigiets wat op die aarde roer nie — wat Ek vir julle afgesonder het deur dit onrein te verklaar.

26. En julle moet vir My heilig wees, want Ek, die Here, is heilig; en Ek het julle van die volke afgesonder om myne te wees.

27. En as daar in ’n man of vrou ’n gees van ’n afgestorwene is of ’n gees wat waarsê, moet hulle sekerlik gedood word. Hulle moet gestenig word. Hulle bloedskuld is op hulle.

Lees volledige hoofstuk Levítikus 20