Ou Testament

Nuwe Testament

Levítikus 16:8-24 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

8. En Aäron moet oor die twee bokke die lot werp, een lot vir die Here en een lot vir Asásel.

9. Dan moet Aäron die bok aanbring waar die lot vir die Here op gekom het en hom as sondoffer berei;

10. maar die bok waar die lot vir Asásel op gekom het, moet lewendig voor die aangesig van die Here gestel word, om oor hom versoening te bewerk deur hom vir Asásel in die woestyn te stuur.

11. Aäron moet dan die sondofferbul wat vir hom bedoel is, laat aankom en vir hom en sy huis versoening doen: hy moet die sondofferbul slag wat vir hom bedoel is,

12. en die vuurpan vol gloeiende kole van die altaar voor die aangesig van die Here wegneem; daarby twee handevol fyngestampte reukwerk van speserye en dit binnekant die voorhangsel bring.

13. En hy moet die reukwerk op die vuur lê voor die aangesig van die Here, dat die wolk van die reukwerk die versoendeksel wat op die Getuienis is, kan oordek, sodat hy nie sterwe nie.

14. En hy moet van die bloed van die bul neem en dit met sy vinger op die versoendeksel aan die oostekant sprinkel; en voor die versoendeksel moet hy sewe maal met sy vinger van die bloed sprinkel.

15. Dan moet hy die sondofferbok slag wat vir die volk bedoel is, en sy bloed binnekant die voorhangsel bring en met sy bloed doen soos hy met die bloed van die bul gedoen het: hy moet dit sprinkel op die versoendeksel en voor die versoendeksel.

16. So moet hy dan vir die heiligdom versoening doen vanweë die onreinhede van die kinders van Israel en vanweë hulle oortredinge, wat hulle sondes ook al mag wees; so moet hy dit ook doen vir die tent van samekoms wat by hulle te midde van hulle onreinhede woon.

17. En niemand mag in die tent van samekoms wees as hy ingaan om in die heiligdom versoening te doen totdat hy uitkom nie en versoening gedoen het vir hom en vir sy huis en vir die hele vergadering van Israel.

18. Dan moet hy na die altaar uitgaan wat voor die aangesig van die Here is en daarvoor versoening doen: hy moet van die bloed van die bul en van die bloed van die bok neem en dit rondom aan die horings van die altaar stryk

19. en met sy vinger van die bloed sewe maal daarop sprinkel. So moet hy dit dan reinig en heilig van die onreinhede van die kinders van Israel.

20. En as hy die versoening van die heiligdom en die tent van samekoms en die altaar voleindig het, moet hy die lewendige bok laat aankom;

21. en Aäron moet sy twee hande op die kop van die lewendige bok lê en oor hom belydenis doen van al die ongeregtighede van die kinders van Israel en al hulle oortredinge, wat hulle sondes ook al mag wees; en hy moet dié op die kop van die bok lê en hom deur ’n man wat gereed staan, na die woestyn toe stuur.

22. So moet die bok dan op hom al hulle ongeregtighede na ’n woeste land wegdra; en hy moet die bok in die woestyn los.

23. Dan moet Aäron in die tent van samekoms ingaan en die linneklere uittrek wat hy aangetrek het toe hy in die heiligdom ingegaan het, en dit daar neerlê.

24. En hy moet sy liggaam op ’n heilige plek in die water bad en sy klere aantrek. Dan moet hy uitgaan en sy brandoffer en die brandoffer van die volk berei, om vir hom en vir die volk versoening te doen.

Lees volledige hoofstuk Levítikus 16