Ou Testament

Nuwe Testament

Klaagliedere 1:10-20 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

10. Jod. Die teëstander het sy hand uitgesteek na al haar kosbaarhede; ja, sy het gesien hoedat heidene in haar heiligdom kom, van wie U bevel gegee het dat hulle in u vergadering nie mag kom nie.

11. Kaf. Haar hele bevolking sug, hulle soek brood, hulle het hul kosbaarhede vir voedsel gegee, om hulleself te verkwik. Aanskou, Here, en merk op dat ek ’n veragte geword het.

12. Lamed. Raak dit julle nie, julle almal wat met die pad verbygaan? Aanskou en kyk of daar ’n smart is soos my smart wat my aangedoen is, waarmee die Here my bedroef het op die dag van sy toorngloed.

13. Mem. Uit die hoogte het Hy vuur gestuur in my gebeente en dit oorweldig, Hy het ’n net voor my voet uitgesprei, Hy het my agteruit laat wyk, Hy het my woes gemaak, die hele dag ellendig.

14. Noen. Die juk van my oortredinge is vasgebind deur sy hand, hulle is saamgevleg, hulle het op my nek gekom, dit het my krag laat struikel. Die Here het my oorgegee in die hande van een teen wie ek geen teëstand kon bied nie.

15. Samek. Die Here het al my magtiges binne-in my verwerp, Hy het teen my ’n feestyd uitgeroep om my jongmanne te verbreek; die Here het die parskuip getrap vir die jonkvrou, die dogter van Juda.

16. Ajin. Daarom ween ek, my oog, my oog loop af in water, want ver van my is die trooster wat my verkwik; my kinders is verbyster, omdat die vyand die oorhand het.

17. Pe. Sion brei haar hande uit, sy het geen trooster nie; die Here het die wat rondom hom was, teen Jakob ontbied as sy teëstanders; Jerusalem het in hul midde ’n voorwerp van afsku geword.

18. Sade. Regverdig is Hy, die Here, want ek was teen sy mond wederstrewig. Hoor tog, alle volke, en aanskou my smart; my jonkvroue en my jongmanne het in gevangenskap gegaan.

19. Kof. Ek het geroep na my liefhebbers — hulle het my in die steek gelaat; my priesters en my oudstes het in die stad beswyk toe hulle voedsel vir hulle gesoek het om hulleself te verkwik.

20. Resj. Aanskou, Here, hoe benoud ek is, my ingewande is in beroering, my hart draai om in my binneste, want ek was baie wederstrewig; buitekant het die swaard berowe, binnekant is dit soos die pes.

Lees volledige hoofstuk Klaagliedere 1