Ou Testament

Nuwe Testament

Josua 7:11-23 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

11. Israel het gesondig en het ook my verbond oortree wat Ek hulle opgelê het, en ook geneem van die bangoed en ook gesteel en dit selfs heimlik by hulle goed gevoeg.

12. En die kinders van Israel sal nie kan standhou voor hulle vyande nie; hulle sal hul vyande die rug gee, omdat hulle self ’n ban geword het. Ek sal nie meer met julle wees tensy julle die ban onder julle uit verdelg nie.

13. Staan op! Heilig die volk en sê: Heilig julleself teen môre; want so sê die Here, die God van Israel: Daar is ’n ban in jou midde, Israel! Jy sal nie kan standhou voor jou vyande totdat julle die ban onder julle uit verwyder het nie.

14. Kom dan môre vroeg aan volgens julle stamme; en die stam wat die Here deur die lot aanwys, moet aankom volgens die geslagte; en die geslag wat die Here aanwys, moet aankom volgens die huisgesinne, en die huisgesin wat die Here aanwys, moet aankom man vir man.

15. En hy wat in besit van die bangoed aangewys is, moet met vuur verbrand word, hy met alles wat aan hom behoort, omdat hy die verbond van die Here oortree en ’n skanddaad in Israel begaan het.

16. En Josua het vroeg in die môre klaargemaak en Israel laat aankom volgens sy stamme; en die stam van Juda is aangewys.

17. Toe hy die geslagte van Juda laat aankom, het die lot die geslag van die Sargiete aangewys; toe hy die geslag van die Sargiete laat aankom man vir man, is Sabdi aangewys;

18. toe hy sy huisgesin man vir man laat aankom, is Agan, die seun van Karmi, die seun van Sabdi, die seun van Serag, van die stam van Juda, aangewys.

19. Toe sê Josua vir Agan: My seun, maak tog die Here, die God van Israel, heerlik en gee Hom die eer; en gee my tog te kenne wat jy gedoen het; steek dit nie vir my weg nie.

20. Toe het Agan Josua geantwoord en gesê: Waarlik, ek het gesondig teen die Here, die God van Israel, en so en so het ek gedoen.

21. Ek het naamlik een mooi mantel uit Sínear by die buitgoed gesien en tweehonderd sikkels silwer en een goudstaaf van vyftig sikkels in gewig, en ek het dit begeer en dit geneem; en kyk, daar lê dit begrawe in die grond binne-in my tent, en die silwer daaronder.

22. Toe Josua dan boodskappers stuur en hulle na die tent loop, lê dit daar begrawe in sy tent, en die silwer daaronder.

23. En hulle het dit uit die tent uitgehaal en dit na Josua en al die kinders van Israel gebring en dit voor die aangesig van die Here uitgeskud.

Lees volledige hoofstuk Josua 7