Ou Testament

Nuwe Testament

Josua 11:6-15 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

6. Toe sê die Here vir Josua: Wees vir hulle nie bevrees nie; want môre omtrent sulke tyd sal Ek hulle, almal verslaan, aan Israel oorgee; hulle perde se hakskeensenings moet jy afsny en hulle waens met vuur verbrand.

7. En Josua met al die weerbare manskappe by hom het skielik op hulle afgekom by die waters van Merom en hulle oorval.

8. En die Here het hulle in die hand van Israel gegee, sodat dié hulle verslaan en hulle agtervolg het tot by Groot-Sidon en tot by Mísrefot-Maim en tot by die laagte van Mispe teen die ooste; en hulle het hul verslaan totdat daar niemand van hulle was wat vrygeraak het nie.

9. En Josua het met hulle gedoen soos die Here aan hom gesê het: hulle perde se hakskeensenings het hy afgesny en hulle strydwaens met vuur verbrand.

10. En in dié tyd het Josua omgedraai en Hasor ingeneem en sy koning met die swaard verslaan; want Hasor was tevore die hoof van al daardie koninkryke.

11. En hulle het al die siele wat daarin was, met die skerpte van die swaard verslaan en hulle met die banvloek getref; niks wat asemhaal, het oorgebly nie, en Hasor het hy met vuur verbrand.

12. En al daardie koningstede met al hulle konings het Josua geneem en hulle met die skerpte van die swaard verslaan; hy het hulle met die banvloek getref, soos Moses, die kneg van die Here, beveel het.

13. Net al die stede wat op hulle heuwels gelê het, dié het Israel nie verbrand nie, behalwe Hasor alleen — wat Josua verbrand het.

14. En al die buit van daardie stede en die vee het die kinders van Israel vir hulleself buitgemaak; net al die mense het hulle verslaan met die skerpte van die swaard, totdat hulle dié verdelg het; hulle het niks wat asemhaal, laat oorbly nie.

15. Soos die Here Moses, sy kneg, beveel het, so het Moses aan Josua bevel gegee, en so het Josua gehandel; hy het niks nagelaat van alles wat die Here Moses beveel het nie.

Lees volledige hoofstuk Josua 11