Ou Testament

Nuwe Testament

Jesaja 66:12-24 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

12. Want so sê die Here: Kyk, die vrede lei Ek na haar toe soos ’n rivier en die rykdom van die nasies soos ’n oorlopende stroom; en julle sal suig, julle sal op die heup gedra word en op die knieë getroetel word.

13. Soos iemand wat deur sy moeder getroos word, so sal Ek julle troos; en julle sal in Jerusalem getroos word.

14. En julle sal dit sien, en julle hart sal vrolik wees, en julle gebeente sal groei soos die jong gras; dan sal die hand van die Here bekend word aan sy knegte, en Hy sal op sy vyande grimmig wees.

15. Want kyk, die Here sal kom in vuur, en sy waens soos ’n stormwind, om in hittigheid sy toorn te openbaar en in vuurvlamme sy dreiging.

16. Want met vuur en met sy swaard sal die Here strafgerig hou oor alle vlees, en hulle wat deur die Here verslaan is, sal baie wees.

17. Die wat hulleself heilig en hulleself reinig vir die tuine, terwyl hulle die een nadoen wat in die middel staan; wat varkvleis eet en verfoeisels en muise — almal saam sal hulle tot niet raak, spreek die Here.

18. Maar Ek ken hulle werke en hulle gedagtes; die tyd kom dat Ek al die nasies en tonge versamel; en hulle sal kom en my heerlikheid sien.

19. En Ek sal ’n teken onder hulle doen, en vrygeraaktes uit hulle stuur na die nasies, na Tarsis, Pul en Lud, wat die boog span, na Tubal en Jawan, na die ver kuslande wat my tyding nie gehoor en my heerlikheid nie gesien het nie; en hulle sal my heerlikheid onder die nasies verkondig.

20. En hulle sal al julle broers bring uit al die nasies as offergawe aan die Here, op perde en op waens en in draagstoele en op muilesels en op kamele na my heilige berg, na Jerusalem, sê die Here, net soos die kinders van Israel die spysoffer in ’n rein voorwerp bring na die huis van die Here.

21. En ook sal Ek uit hulle priesters en Leviete neem, spreek die Here.

22. Want soos die nuwe hemel en die nuwe aarde wat Ek maak, voor my aangesig sal bestaan, spreek die Here, so sal julle nageslag en julle naam bestendig wees.

23. En elke maand op die nuwemaan en elke week op die sabbat sal alle vlees kom om te aanbid voor my aangesig, sê die Here.

24. En hulle sal uitgaan en die lyke sien van die mense wat teen My opgestaan het; want hulle wurm sal nie sterwe en hulle vuur sal nie uitgeblus word nie, en hulle sal afgryslik wees vir alle vlees.

Lees volledige hoofstuk Jesaja 66