Ou Testament

Nuwe Testament

Jesaja 10:5-12 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

5. WEE Assur! die roede van my toorn en ’n stok is hy — in hulle hand is my grimmigheid!

6. Ek sal hom stuur teen ’n roekelose nasie, en Ek sal hom bevel gee teen die volk van my grimmigheid, om buit te maak en roof in te samel en om hulle tot ’n vertrapping te maak soos modder van die strate.

7. Maar hý bedoel dit nie so nie, en sy hart dink nie so nie; maar om te verdelg, is in sy hart, en om nasies uit te roei, nie min nie.

8. Want hy sê: Is my vorste nie almal saam konings nie?

9. Het dit met Kalno nie gegaan soos met Kárkemis, met Hamat soos met Arpad, met Samaría soos met Damaskus nie?

10. Soos my hand die koninkryke van die afgode bereik het, alhoewel hulle gesnede beelde meer was as dié van Jerusalem en Samaría,

11. sou ek nie, soos ek aan Samaría en sy afgode gedoen het, net so aan Jerusalem en sy afgode kan doen nie?

12. Maar as die Here al sy werk voltooi het op die berg Sion en in Jerusalem, dan sal Ek besoeking doen oor die vrug van die grootsheid van die hart van Assirië se koning en oor die gepraal van sy hoë oë.

Lees volledige hoofstuk Jesaja 10