Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 29:11-28 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

11. Want Ék weet watter gedagtes Ek aangaande julle koester, spreek die Here, gedagtes van vrede en nie van onheil nie, om julle ’n hoopvolle toekoms te gee.

12. Dan sal julle My aanroep en heengaan en tot My bid, en Ek sal na julle luister.

13. En julle sal My soek en vind as julle na My vra met julle hele hart.

14. En Ek sal My deur julle laat vind, spreek die Here, en julle lot verander en julle versamel uit al die nasies en uit al die plekke waarheen Ek julle verdryf het, spreek die Here; en Ek sal julle terugbring na die plek vanwaar Ek julle in ballingskap weggevoer het.

15. As julle sê: Die Here het vir ons profete verwek in Babel —

16. nee, so sê die Here aangaande die koning wat op die troon van Dawid sit, en aangaande die hele volk wat in hierdie stad woon, julle broers wat nie saam met julle in ballingskap uitgetrek het nie,

17. so sê die Here van die leërskare: Kyk, Ek stuur die swaard, die hongersnood en die pes onder hulle, en Ek sal hulle maak soos bedorwe vye wat te sleg is om te eet.

18. En Ek sal hulle agtervolg met die swaard, die hongersnood en die pes; en Ek sal hulle ’n skrikbeeld maak vir al die koninkryke van die aarde: ’n voorwerp van vervloeking, van verbasing, van bespotting en van smaad onder al die volke waarheen Ek hulle verdryf het;

19. omdat hulle na my woorde nie geluister het nie, spreek die Here, waarmee Ek my knegte, die profete, na hulle gestuur het, vroeg en laat, sonder dat julle geluister het, spreek die Here.

20. Luister dan na die woord van die Here, al julle ballinge wat Ek uit Jerusalem na Babel weggestuur het!

21. So sê die Here van die leërskare, die God van Israel, aangaande Agab, die seun van Kolája, en aangaande Sedekía, die seun van Maäséja, wat vir julle in my Naam leuens profeteer: Kyk, Ek gee hulle in die hand van Nebukadrésar, die koning van Babel, en hy sal hulle voor julle oë verslaan.

22. En aan hulle sal ’n vloek ontleen word by al die ballinge van Juda wat in Babel is, deurdat gesê word: Mag die Here jou maak soos Sedekía en soos Agab, wat die koning van Babel in die vuur gebraai het! —

23. omdat hulle ’n skanddaad in Israel begaan het en owerspel met die vroue van hulle naaste bedryf het en ’n leuenwoord in my Naam gespreek het, wat Ek hulle nie beveel het nie; en Ek is die Een wat weet en getuie is, spreek die Here.

24. En aan Semája, die Nehelamiet, moet jy dít sê:

25. So spreek die Here van die leërskare, die God van Israel: Omdat jý ’n brief in jou naam gestuur het na die hele volk wat in Jerusalem is, en na Sefánja, die seun van Maäséja, die priester, en na al die priesters, met die woorde:

26. Die Here het jou as priester aangestel in die plek van die priester Jójada, dat daar opsigters kan wees in die huis van die Here oor elkeen wat kranksinnig is en as profeet optree, dat jy hom in die blok en in die nekyster kan sit —

27. waarom het jy dan nou Jeremia, die Anatotiet, nie gekeer nie, wat by julle as ’n profeet optree;

28. aangesien hy ons in Babel laat weet het: Dit sal lank duur; bou huise en woon, en plant tuine aan en eet die vrugte daarvan?

Lees volledige hoofstuk Jeremia 29