Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 2:18-33 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

18. Wat het jy dan nou te doen met die pad na Egipte, om die water van die Nyl te drink? En wat het jy te doen met die pad na Assur, om die waters van die Eufraat te drink?

19. Jou eie boosheid sal jou tugtig, en jou afkerighede sal jou straf; weet dan en sien dat dit verkeerd en bitter is dat jy die Here jou God verlaat het, en dat my vrees nie by jou is nie, spreek die Here, die Here van die leërskare.

20. Want van ouds af het jy jou juk verbreek, jou stroppe stukkend geruk. En jy het gesê: Ek sal nie dien nie; want op elke hoë heuwel en onder elke groen boom gaan jy lê om te hoereer.

21. Nogtans het Ek jou geplant as ’n edele wingerdstok, as heeltemal egte saad; maar hoe is jy vir My verander in wilde lote van ’n vreemde wingerdstok!

22. Want al sou jy jou was met loog en baie seep vir jou neem, tog bly jou ongeregtigheid ’n vlek voor my aangesig, spreek die Here Here.

23. Hoe kan jy sê: Ek is nie verontreinig nie; ek het nie agter die Baäls aan geloop nie? Kyk jou weg in die dal; weet wat jy gedoen het, jou vinnige jong kameelkoei wat rond hardloop!

24. ’n Wilde-eselin, gewend aan die woestyn, wat in haar heftige begeerte die wind opsnuiwe — haar hittigheid, wie sal dit keer? Almal wat haar soek, hoef hulle nie te vermoei nie; in haar maand sal hulle haar kry.

25. Hou jou voet terug, dat dit sy skoen nie verloor nie; en jou keel, dat dit nie dors word nie. Maar jy sê: Dit is tevergeefs, nee; want ek het vreemdes lief en sal agter hulle aan loop.

26. Soos ’n dief in die skande kom as hy uitgevind word, so het die huis van Israel in die skande gekom; hulle, hulle konings, hulle vorste en hulle priesters en hulle profete,

27. wat vir ’n stuk hout sê: Jy is my vader; en vir ’n klip: Jy het my gebaar. Want hulle het My die rug toegekeer en nie die aangesig nie. Maar in die tyd van hulle onheil sê hulle: Staan op en verlos ons!

28. Waar is dan jou gode wat jy vir jou gemaak het? Laat hulle opstaan as hulle jou kan verlos in die tyd van jou onheil; want volgens die getal van jou stede is jou gode, o Juda!

29. Waarom twis julle met My? Julle almal het teen My oortree, spreek die Here.

30. Tevergeefs het Ek julle kinders geslaan; hulle het geen tugtiging aangeneem nie; julle swaard het julle profete verslind soos ’n verskeurende leeu.

31. o Geslag, verneem die woord van die Here! Het Ek vir Israel ’n woestyn geword of ’n land van duisternis? Waarom sê my volk dan: Ons swerf vry rond, ons sal nie meer na U toe kom nie?

32. Kan ’n jonkvrou haar versiersel vergeet, ’n bruid haar pronkgordel? Maar my volk het My vergeet, dae sonder getal.

33. Hoe goed kry jy jou pad om liefde te soek! Daarom het jy ook jou weë aan die slegte dinge gewend gemaak.

Lees volledige hoofstuk Jeremia 2