Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 14:16-22 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

16. En die volk vir wie hulle profeteer, sal in die strate van Jerusalem weggegooi lê vanweë die hongersnood en die swaard sonder dat iemand hulle begrawe; hulle, hulle vrouens en hulle seuns en hulle dogters. So sal Ek dan hulle boosheid oor hulle uitstort.

17. Sê aan hulle dan hierdie woord: Laat my oë afloop in trane nag en dag en nie ophou nie; want die jonkvrou, die dogter van my volk, is gebreek met ’n groot verbreking, met ’n baie smartlike wond.

18. As ek uitgaan in die veld, lê daar die wat verslaan is deur die swaard; en as ek kom in die stad, is daar die kwale van die hongersnood. Ja, selfs profeet en priester trek rond in die land sonder om iets te weet.

19. Het U Juda dan heeltemal verwerp? Of het u siel ’n afsku van Sion? Waarom het U ons geslaan, sodat daar geen genesing vir ons is nie? Hulle wag op vrede, maar daar is niks goeds nie; en op ’n tyd van beterskap, maar daar is verskrikking.

20. Here, ons ken ons goddeloosheid, die ongeregtigheid van ons vaders, want ons het teen U gesondig.

21. Verwerp ons nie ter wille van u Naam; onteer die troon van u heerlikheid nie; hou tog in gedagtenis, verbreek nie u verbond met ons nie.

22. Is daar onder die nietige afgode van die nasies wat reën kan maak? Of kan die hemel reënbuie gee? Is U dit nie, o Here onse God? En ons wag op U, want Ú doen al hierdie dinge.

Lees volledige hoofstuk Jeremia 14