Ou Testament

Nuwe Testament

Haggai 1:7-15 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

7. So sê die Here van die leërskare: Gee ag op wat julle wedervaar het!

8. Klim op die berg en bring hout aan en bou die huis; dan sal Ek ’n welgevalle daaraan hê en My verheerlik, sê die Here.

9. Julle het uitgesien na baie, en kyk, dit het min geword; en julle het dit in die huis gebring, maar Ek het dit weggeblaas. Waarom? spreek die Here van die leërskare. Ter wille van my huis wat in puin lê, terwyl elkeen van julle vir sy eie huis hardloop.

10. Daarom het die hemel bo julle die dou ingehou en die aarde het sy opbrings teruggehou.

11. En Ek het droogte oor die land geroep en oor die berge en oor die koring en oor die mos en oor die olie en oor alles wat die grond oplewer; en oor die mense en oor die diere en oor alle arbeid van die hande.

12. Toe het Serubbábel, die seun van Seáltiël, en Josua, die seun van Jósadak, die hoëpriester, en die hele oorblyfsel van die volk gehoor gegee aan die stem van die Here hulle God en aan die woorde van Haggai, die profeet, volgens die opdrag waarmee die Here hulle God hom gestuur het; en die volk was vervul met vrees voor die aangesig van die Here.

13. Daarop het Haggai, die boodskapper van die Here, kragtens die boodskap van die Here, met die volk gespreek en gesê: Ek is met julle, spreek die Here.

14. En die Here het die gees van Serubbábel, die seun van Seáltiël, die goewerneur van Juda, en die gees van Josua, die seun van Jósadak, die hoëpriester, en die gees van die hele oorblyfsel van die volk opgewek. En toe het hulle gekom en die werk begin aan die huis van die Here van die leërskare, hulle God.

15. Dit was op die vier-en-twintigste dag van die sesde maand, in die tweede jaar van koning Daríus.

Lees volledige hoofstuk Haggai 1