Ou Testament

Nuwe Testament

Génesis 47:15-26 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

15. En toe die geld in Egipteland en in die land Kanaän op was, het al die Egiptenaars na Josef gekom en gesê: Gee vir ons brood! En: Waarom moet ons voor u oë sterwe, want die geld is gedaan?

16. En Josef antwoord: Gee julle vee, dan sal ek dit aan julle gee vir julle vee as die geld gedaan is.

17. Toe bring hulle hul vee na Josef, en Josef het aan hulle brood gegee vir die perde en die besitting aan kleinvee en beeste en vir die esels; en hy het hulle dié jaar versorg met brood vir die waarde van al hulle besittings aan vee.

18. Toe dié jaar om was, het hulle na hom gekom in die tweede jaar en vir hom gesê: Ons kan dit vir my heer nie wegsteek nie, maar die geld is op en die besitting aan vee is my heer s’n. Daar het niks vir my heer oorgebly nie as net ons lyf en ons grond.

19. Waarom moet ons voor u oë te gronde gaan, ons sowel as ons landerye? Koop ons en ons grond vir brood, dan sal ons met ons grond aan Farao diensbaar wees; en gee saadkoring, dat ons kan lewe en nie sterwe nie, en dat die grond nie woes word nie.

20. So het Josef dan al die grond van Egipte vir Farao opgekoop, want die Egiptenaars het elkeen sy stuk grond verkoop, omdat die hongersnood vir hulle te swaar was. So het die land dan Farao se eiendom geword.

21. En wat die volk betref — hy het hulle laat verhuis na die stede, van die een end van die Egiptiese gebied na die ander end daarvan.

22. Net die grond van die priesters het hy nie gekoop nie; want die priesters het ’n vaste inkomste van Farao ontvang en van hulle vaste inkomste geëet wat Farao hulle toegestaan het. Daarom het hulle hul grond nie verkoop nie.

23. Toe sê Josef aan die volk: Kyk, ek het vandag julle en jul grond vir Farao gekoop: daar is saadkoring vir julle, dat julle die grond kan besaai.

24. En by die insameling moet julle ’n vyfde deel aan Farao afgee, en die ander vier dele sal julle eiendom wees, as saad vir die land en as voedsel vir julleself en die wat in julle huise is, en as voeding vir julle kinders.

25. En hulle antwoord: U het ons lewe gered. Laat ons guns mag vind in die oë van my heer, dan sal ons die dienaars van Farao wees.

26. En Josef het dit ’n wet gemaak tot vandag toe vir die saaigrond van Egipte — die vyfde deel behoort aan Farao. Net die grond van die priesters alleen het nie die eiendom van Farao geword nie.

Lees volledige hoofstuk Génesis 47