Ou Testament

Nuwe Testament

Génesis 43:5-23 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

5. maar as u hom nie stuur nie, sal ons nie aftrek nie; want die man het aan ons gesê: Julle sal my aangesig nie sien as julle broer nie by julle is nie.

6. Toe sê Israel: Waarom het julle so verkeerd teen my gehandel deur die man te vertel dat julle nog ’n broer het?

7. En hulle antwoord: Die man het uitdruklik na ons en ons familie gevra met die woorde: Lewe julle vader nog? Het julle nog ’n broer? Toe het ons hom dit te kenne gegee volgens hierdie woorde. Kon ons dan ooit weet dat hy sou sê: Bring julle broer af?

8. Daarop sê Juda aan sy vader Israel: Stuur die seun saam met my; dan sal ons klaarmaak en wegtrek, sodat ons kan lewe en nie sterwe nie — ons en ook u en ons kinders nie.

9. Ek sal vir hom borg wees; van my hand kan u hom eis. As ek hom nie na u bring en voor u stel nie, sal ek lewenslank teenoor u skuldig staan.

10. Ja, as ons nie getalm het nie, waarlik dan was ons nou al twee maal terug.

11. Toe het Israel, hulle vader, vir hulle gesê: As dit so is, doen dan dit: neem van die opbrings van die land in julle sakke en bring vir die man ’n geskenk af — bietjie balsem en bietjie heuning, speserye en gom, neute en amandels;

12. en neem dubbel soveel geld met julle saam en bring die geld wat weer bo in julle sakke gesit is, met julle saam terug. Miskien was dit ’n vergissing.

13. En neem julle broer — maak julle klaar en gaan terug na die man.

14. En mag God, die Almagtige, julle barmhartigheid verleen by die man, sodat hy julle ander broer en Benjamin saam met julle kan laat trek! En ek — as ek van kinders beroof is, dan is ek beroof.

15. Daarop neem die manne dié geskenk, en hulle neem dubbel soveel geld saam met hulle en ook Benjamin, en hulle het klaargemaak en na Egipte afgetrek en voor Josef gaan staan.

16. Toe Josef Benjamin by hulle sien, sê hy aan die opsigter oor sy huis: Bring die manne in die huis en slag slagvee en maak dit gereed, want die manne moet vanmiddag by my eet.

17. En die man het gedoen soos Josef beveel het, en die man het die manne in die huis van Josef gebring.

18. En die manne het gevrees, omdat hulle in die huis van Josef gebring is, en gesê: Ter wille van die geld wat die vorige keer in ons sakke teruggekom het, word ons ingebring om ons te oorrompel, ons te oorval en ons as slawe te neem, saam met ons esels.

19. Daarom het hulle nader gekom na die man wat oor die huis van Josef was, en met hom gespreek by die ingang van die huis

20. en gesê: Ag, my heer, ons het die vorige keer net afgetrek om voedsel te koop,

21. maar toe ons in die herberg kom en ons sakke oopmaak, was elkeen se geld bo in sy sak — ons geld volgens sy gewig — en ons het dit saam met ons teruggebring.

22. Ons het ook ander geld saam met ons afgebring om voedsel te koop. Ons weet nie wie ons geld in ons sakke gesteek het nie.

23. Toe antwoord hy: Vrede vir julle! Moenie bang wees nie! Julle God en die God van julle vader het julle ’n skat in jul sakke gegee. Julle geld het by my gekom. Daarop het hy Símeon na hulle uitgebring.

Lees volledige hoofstuk Génesis 43