Ou Testament

Nuwe Testament

Génesis 38:6-23 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

6. En Juda het vir Er, sy eersgeborene, ’n vrou geneem, en haar naam was Tamar.

7. Maar Er, die eersgeborene van Juda, het die Here mishaag. Daarom het die Here hom laat sterwe.

8. Toe sê Juda vir Onan: Gaan in by die vrou van jou broer en sluit die swaershuwelik met haar en verwek vir jou broer ’n nageslag.

9. Maar Onan het geweet dat die nageslag nie syne sou wees nie; daarom het hy, elke keer as hy by die vrou van sy broer ingaan, dit op die grond verderwe om vir sy broer geen nageslag te gee nie.

10. En dit was verkeerd in die oë van die Here wat hy gedoen het; daarom het Hy hom ook laat sterwe.

11. Toe sê Juda vir Tamar, sy skoondogter: Bly ’n weduwee in die huis van jou vader totdat my seun Sela groot is. Want hy het gedink: Anders sterwe hy ook soos sy broers! So het Tamar dan gaan woon in die huis van haar vader.

12. En ná verloop van geruime tyd het die dogter van Sua, die vrou van Juda, gesterwe. En toe Juda klaar getreur het, het hy opgegaan na die skeerders van sy kleinvee, na Timna toe, hy en sy vriend Hira, die Adullamiet.

13. En hulle het Tamar te kenne gegee en gesê: Kyk, jou skoonvader gaan op na Timna om sy kleinvee te skeer.

14. Toe trek sy die klere van haar weduweeskap uit en bedek haar met ’n sluier en draai haar toe; en sy het gaan sit by die ingang van Enaim wat op die pad na Timna lê. Want sy het gesien dat Sela groot geword het, maar sy was aan hom nie as vrou gegee nie.

15. Toe Juda haar sien, het hy haar vir ’n hoer gehou, omdat sy haar gesig toegebind het;

16. en hy het na haar uitgedraai by die pad en gesê: Kom tog, laat my by jou ingaan; want hy het nie geweet dat dit sy skoondogter was nie. En sy vra: Wat sal jy my gee as jy by my ingaan?

17. En hy antwoord: Ek sal jou ’n boklam van die kleinvee af stuur. Toe sê sy: As jy ’n pand gee totdat jy dit stuur.

18. En hy sê: Wat is die pand wat ek jou moet gee? Toe antwoord sy: Jou seëlring met die bandjie en jou staf wat in jou hand is. Hy gee dit toe aan haar en gaan by haar in, en sy het by hom swanger geword.

19. En sy het opgestaan en weggegaan en haar sluier afgehaal en die klere van haar weduweeskap aangetrek.

20. En Juda het die boklam gestuur deur middel van sy vriend, die Adullamiet, om die pand uit die hand van die vrou te gaan haal. Maar hy het haar nie gevind nie.

21. Toe vra hy die mense van haar woonplek: Waar is daardie hoer wat in Enaim by die pad was? En hulle antwoord: Hier was geen hoer nie.

22. Daarop gaan hy na Juda terug met die berig: Ek het haar nie gevind nie. En die mense van die plek het ook gesê: Hier was geen hoer nie.

23. Toe sê Juda: Laat sy dit hou, dat ons nie ’n bespotting word nie. Kyk, ek het hierdie boklam gestuur, maar jy het haar nie gevind nie.

Lees volledige hoofstuk Génesis 38