Ou Testament

Nuwe Testament

Génesis 24:7-18 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

7. Die Here, die God van die hemel, wat my uit my vader se huis en uit my geboorteland weggeneem het, en wat met my gespreek en vir my gesweer het met die woorde: Aan jou nageslag sal Ek hierdie land gee — Hy sal sy engel voor jou uit stuur, en jy moet vir my seun daar ’n vrou gaan haal.

8. Maar as die vrou jou nie wil volg nie, dan is jy ontslae van hierdie eed aan my. Jy moet net my seun nie weer daarheen bring nie.

9. Toe lê die dienaar sy hand onder die heup van Abraham, sy heer, en hy het vir hom gesweer, met die oog op hierdie saak.

10. En die dienaar het tien kamele van die kamele van sy heer geneem en weggegaan met allerhande kosbare goed van sy heer by hom: hy het klaargemaak en na Mesopotámië, na die stad van Nahor, getrek.

11. En hy het die kamele laat neerkniel buitekant die stad by ’n put, teen die aand, teen die tyd dat die vroue uitgaan om water te skep,

12. en gesê: Here, God van Abraham, my heer, laat ek haar tog vandag ontmoet, en bewys guns aan Abraham, my heer.

13. Hier staan ek by die fontein, terwyl die dogters van die manne van die stad uitkom om water te skep.

14. Laat dít nou tog gebeur: as die dogter aan wie ek sal sê: Hou tog jou kruik, dat ek kan drink, antwoord: Drink, en ek sal ook u kamele laat drink — dan is sy dit wat U bestem het vir u kneg Isak, en daaraan sal ek weet dat U guns aan my heer bewys het.

15. Hy het nog nie klaar gespreek nie, of daar kom Rebekka uit wat vir Bétuel, die seun van Milka, die vrou van Nahor, Abraham se broer, gebore is, met haar kruik op haar skouer.

16. En die dogter was baie mooi van aansien, ’n jongmeisie, en geen man het haar beken nie. En sy het afgedaal na die fontein en haar kruik volgemaak en weer opgekom.

17. Toe loop die dienaar haar tegemoet en sê: Laat my tog ’n bietjie water uit jou kruik drink.

18. En sy antwoord: Drink, my heer! Daarop laat sy gou haar kruik op haar hand afsak en laat hom drink.

Lees volledige hoofstuk Génesis 24